Drie plaaslike spanne in vandag se eindstryd
Die tafel is gedek vir die Mpumalanga-laerskole-eindstryd wat vandag op Hoërskool Nelspruit se rugbyvelde beslis word.

Die eerste span van Laerskool Bergland, wat ook verlede jaar die trofeë omhoog gehou het toe hulle met Laerskool Nelspruit se Ford Nellie Leeus afgereken het, draf teen Laerskool Kragbron uit.
Lees ook: Bergland wil hul titel verdedig
Afrigter van Bergies, Tobie Pretorius het die seisoen sy span tot 11 agtereenvolgende oorwinnings gelei.

“Dit is vir my en my hulpafrigter, Riaan Venter ‘n voorreg om die groep talentvolle seuns te kan lei. Die seuns het reeds in Oktober vir vanjaar se rugbyseisoen begin voorberei. Hulle is ‘n nederige groep spelers wat elke keer as hulle op die veld draf, vir mekaar speel. Hulle sien baie uit na vandag se eindstryd.”
Die losskakel en kaptein, Christo Nel, wat ook as die Pumas se o/13-kaptein vir die Coca-Cola Cravenweek aangewys is, sê dat die span hulle beste in vandag se eindstryd gaan gee.

“Ons het ‘n goeie seisoen gehad en die manne is reg vir die eindstryd. Ons het hard gewerk en ons gaan met selfvertroue vandag op die veld draf en ons skool asook die Laeveld se naam hooghou.”
Bergland se Keenan Visser (skrumskakel), Damian Lombard (agtsteman) en Vincent Correa (vleuel) is ook in die Pumaspan opgeneem wat in die vakansie by Paarl Gimnasium in aksie gaan wees.
Nellies se o/9’s het tydens die Mpumalanga-halfeindstryd net-net met Laerskool Kruinpark 24-22 afgereken en speel 12:00 teen Goedehoop. Die o/10’s van Laerskool Witrivier het na die eindstryd deurgedring toe hulle Goedehoop 12-8 geklop het en kom vandag om 14:00 teen Laerskool Middelburg te staan.


Die hoofwedstryd skop 16:00 af.
Vandag se program:
O/9
• 11:00 – Komatipoort vs. Marietjie van Niekerk
• 12:00 – Nelspruit vs. Goedehoop
O/11
• 13:00 – Komatipoort vs. Marietjie van Niekerk
O/10
• 14:00 – Witrivier vs. Middelburg
Eerstes
• 15:00 – Sabie vs. Marietjie van Niekerk
• 16:00 Bergland vs. Kragbron.
