Dit is mos hoe kampioene moet lyk!
Die Mpumalanga-grootskoletrofee gaan nêrens heen nie en sal sy staanplek in Laerskool Bergland se voorportaal nóg 'n jaar vol staan.

Dié skool se eerste rugbyspan het Dinsdag teen Laerskool Kragbron in die eindstryd te staan gekom en vier drieë teenoor twee gedruk om die kragmeting 22-12 te wen.
Die senterpaar van Bergies, Emmanuel Bhiya en Brandon Lombard het elk twee drieë gedruk. Die Laevelders het reeds teen rustyd gemaklik met 17-7 voorgeloop.
Lees ook: Bergland wil hul titel verdedig
“Ek en die hulpafrigter, Riaan Venter is baie trots op die seuns. Dit was ‘n baie harde wedstryd en alhoewel hulle seuns heelwat groter as ons s’n was, het die manne goeie karakter getoon om die wedstryd te wen,” het die hoofafrigter Tobie Pretorius gesê.
Kaptein van Bergland, Christo Nel wat ook die o/13 Coca-Cola Cravenweek op Paarl Gimnasium gaan lei, se skopskoen was dwarsdeur die seisoen witwarm en hy was goud werd vir sy span in die eindstryd.
Bergland het vroeg hulle stempel afgedruk nadat Nel deur Kragbron se verdediging gebreek het. Die kaptein het die bal na die regtervleuel Iza Sithole aangegee en na ‘n pragtige agterlynbeweging het Lombard die bal goed opgetel om Bergland se eerste drie te druk.
Kragbron het hulle rekening in die agtste minuut geopen toe Bergies ‘n lynstaan verloor het en die flank, Ettienne Bester gedruk het.
Die losskakel, Divan Botha het die drie verdoel en Kragbron het die voortou geneem.
Kort na dié drie, het die senterpaar van Bergland die bal wyd versprei en Lombard het vir sy tweede drie oor die doellyn geduik. Nel het die bal deur die pale geskop.
Net voor die rustydfluitjie, het Bhiya ‘n verdere vyf punte aangeteken en Nel het die bal net verby die linkerpaal geskop.
In die tweede helfte, het hy ‘n tikskoppie na die linkerkant van die veld geskop en dit het tot Bergland se laaste drie deur Bhiya gelei.
“Dit was uitstekende sportmanskap en die seuns het na afloop van die kragmeting gesê dit was een van hulle lekkerste wedstryde. Dit was ‘n taai stryd en die spelers het tot die einde toe geveg,” het die spanbestuurder van Kragbron, Gerhard Pretorius, gesê.
Dit was Bergland se 12de agtereenvolgende wen vir die seisoen. Dit sou heel onwaarskynlik gewees het as die wit-en-groentruie nie die wedstryd gewen het nie.
Bergland! Die Laeveld is trots op julle.
Foto’s: Bergland vs. Kragbron
























