‘n Eerste vir Curro se o/14-rugbyspan
Die Mpumalanga-trofee vir mediumskole staan vir die eerste jaar in Curro Nelspruit se voorportaal.

Die o/14’s het Saterdag in die eindstryd met 17-14 teen Hoërskool Barberton afgereken. Wat dit meer spesiaal maak, is dat die skool net vyf jaar gelede sy deure geopen het. Wat dié rugbyspannetjie uniek maak, is dat hulle ook vir die eisteddfod se gedramatiseerde spreekkoor-afdeling ingeskryf het.
Lees ook: Curro Nelspruit se eerste is kampioene!
Die o/16’s van Curro het ook teen Barberton in hul eindstryd te staan gekom, maar moes die knie met 21-30 buig. Hulle speel môre op Curro se tuisgronde teen Fochville in die kwarteindstryd van die Virseker Beeld-trofee. Die o/14’s het hierdie naweek ‘n loslootjie.
Teen rustyd was die telling sewe elk. Curro se vleuel, Khaya Vilane het in die doodsnikke van die kragmeting die wendrie gedruk. “Sonder ons hulpafrigter, Zane Blignaut sou ons nie so goed gevaar ghet nie. Ons afronding was nie Saterdag goed nie, maar die manne het beter rugby in die tweede helfte gespeel. Ons verkies om met die bal in hand te hardloop en ons skop nie graag kantlyn toe nie,” sê die afrigter Paul Viljoen.
Lees ook: Curro Nelspruit bied interskole-gholfkompetisie aan
Die o/14’s het hierdie jaar net een van hulle 15 wedstryde verloor en 388 punte aangeteken waarvan net 73 teen hulle aangeteken is. In agt ligawedstryde het die span 36 drieë gedruk. Die kaptein en agtsteman, Simon Joubert het 18 van dié drieë gedruk.
“Ons sal aanhou aan ons sterk punte te werk en ons sal altyd nederig bly. As span wil ons graag ‘n rolmodel vir die res van die skool wees. Ek is geweldig trots op my span en dankie aan die skool, ons ouers en Hannes Naudé wat week na week langs die kantlyn staan om ons te ondersteun,” het Simon gesê.
‘n Hele paar van die seuns neem hierdie jaar vir die eerste keer aan die eisteddfod deel om die spangees ‘n hupstoot te gee. Frances van Niekerk rig die seuns af. “Ek het ‘n passie vir kinders en vir drama. Die rugbystuk, “Curro Champs” pas by die seuns en dit is ‘n veld waarmee hulle bekend is. As die seuns nie Saterdag gewen het nie, sou ons steeds deelgeneem het. Dit is ‘n uitdaging om hulle uit hul gemaksone te kry, maar dit is ‘n baie oulike groep seuns,” vertel Van Niekerk.
Die o/16’s se wedstryd skop om 10:00 af.
