Spruyt vir SA top-35 se o/18-netbalspan gekies
Sarah Spruyt is vir die Suid-Afrikaanse top-35 se o/18-netbalspan gekies.
Dié 18-jarige van Hoërskool Nelspruit saam met haar spanmaat, Carmen Cronje is die enigste twee spelers van die Laeveld wat tot die span verkies is. Die proewe het by Hoërskool EG Jansen plaasgevind.
Die twee, saam met Petronet Joubert van Middelburg, is die wat Mpumalanga verteenwoordig.
Spruyt, huidige mej. Nelspruit, speel sedert gr. 9 provinsiale netbal en was ook ‘n kranige gimnas toe sy jonger was. Sy het tot vlak-10 vir ritmiese gimnastiek gevorder en het ook haar vlak-ses in artistiese gimnastiek.
Lees ook: Ware skoonheid het vele fasette by NHS
Sy het in Kemptonpark grootgeword waar sy op Laerskool Van Riebeeckpark op skool was.
“Daar was destyds nog nie hokkie nie en daarom het ek nog altyd netbal gespeel. Uit die SA-span is ek die kleinste en soms sê mense dit ook vir my wanneer ek sê ek speel netbal.”
Spruyt het verlede jaar ook vir NHS se eerste netbalspan op die baan gedraf. Hulle het vanjaar tweede in Mpumalanga geëindig waar hulle na die Noordvaal-toernooi deurgedring het.
Die o/14’s, o/16’s en o/17’s het hierdie jaar aan die Noordvaal deelgeneem. NHS het verlede jaar geen span gehad wat gekwalifiseer het nie. Afrigter, René Adendorf, het vanjaar eers die eerstes begin afrig.
“Sy is een van die groot redes dat ek vir die span opgeneem is. Ek het nooit na so iets toe gewerk nie, maar sy het my as speler baie ontwikkel.”
Lees ook: Skole se provinsiale spanne gekies
Gimnastiek het baie van haar tyd opgeneem, maar dit het haar met haar fisiese ontwikkeling gehelp.
“Dalk as ons in Johannesburg gebly het, sou iets soos die Olimpiese Spele in my agterkop gewees het, maar daar was vir niks anders as net gimnastiek, tyd nie. Dit is ‘n baie alleensport.”
Sy het voorlopige keuring vir Bcom Ondernemingsbestuur by die Universiteit van Pretoria én ook by die Universiteit van Noordwes. “Ek wil baie graag vir my koshuis netbal speel, maar ek sal maar kyk of ek vir Tuks sal speel.”
Inge Janse van Vuuren, ook van NHS, is by die o/17-groep ingesluit.





















