Skut weer gekies om SA’s toe te gaan
Hoërskool Bergvlam se skut, Petri Visagie is vir die tweede agtereenvolgende jaar gekies om sy provinsie tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskap te verteenwoordig.

Verlede jaar by die Mpumalanga-skolekampioenskappe in Ermelo het hy ‘n silwermedalje teruggebring en hierdie jaar, by dieselfde kompetisie, het hy ‘n goud losgeskiet.
Die 15-jarige is by Bergvlam se jaarlikse prysuitdeling in 2015 as die juniorgeweerskut van die jaar aangewys en het verlede jaar erekleure gekry nadat sy span streekwenners was.
“Ek het Bergvlam gekies, omdat hulle een van die min skole in die Laeveld is wat prysskiet as ‘n sport aanbied. My hele lewe bestaan uit skiet. Ek het met gewere grootgeword en my oupa was self ‘n skut op sy dag,” vertel Visagie.
Hy het reeds in gr. 8 vir die o/16-sporterkategorie geskiet. By die onlangse skolekampioenskappe, is hy as die beste skut in sy kategorie aangewys nadat hy 1 331 punte bymekaargemaak het. Die drie p’s, staan, lê en kniel en die Olympics wat 10m-staan is, is die verskillende posisies wat prysskiet behels.
“Van kleins af maak Petri asof hy ‘n geweer vashou. Ek dink as ek al die pellets in die huis moet optel nadat hy met sy bibigun klaar is, kan ek skatryk word,” vertel sy ma Jessmine.
Visagie het net een doel voor oë – om eendag die groen-en-goud by die Olimpiese Spele te dra. “Ek weet dit gaan baie harde werk verg, maar dit is waarna toe ek mik. Dit is my droom en ek besef dat ek doelgerig moet wees. My afrigter, Hennie Golding het my alles van die sport af geleer.”
Vroeër vanjaar, het hy sommer twee blesbokke met een skoot op ‘n wildsplaas in Potgietersrus geskiet.
“Ek het vir die een bok gemik en soos ek die sneller getrek het, het ‘n ander bok voor die ander een ingespring. Die eerste dier wat ek geskiet het, was ‘n vlakvark. Dit is die lekkerste as jy die vleis na ‘n Russian toe verwerk,” sê Visagie.
Met sy insluiting in verlede jaar se Mpumalanga-span, het hy ‘n veeraksie-windbuks as geskenk by sy ma, gekry. Sy heel eerste geweer, ‘n sporter was net ‘n kleiner weergawe as die een wat hy nou het. Hy maak nou van Vlammies se S400- meerdoelige geweer gebruik.
Tydens hierdie jaar se Rio Olimpiese Spele was daar nie ‘n wekker in die huis wat nie gestel was nie, net sodat Visagie nie een oomblik van die skietaksie misloop nie.


