School sportSport

Jong hokkiegeesdriftiges leer so speel-speel fynere kunsies

Toekomstige ster-hokkiespelers kon Saterdag 'n verskeidenheid vaardighede aanleer tydens 'n mini-hokkiedag by Laerskool Malelane.

Laerskool Malelane se mini-hokkiedag het uit 67 wedstryde bestaan waaraan 21 meisiespanne en agt seunspanne van die gasheerskool, Komatipoort Akademie, Riverview Preparatory School, Laerskool Barberton en Uplands Preparatory School deelgeneem het.

Die doel van die dag was om leerlinge tussen die ouderdomme van vyf en 12 die kans te gee om vaardighede speel-speel aan te leer.

Dit was ook ‘n goeie geleentheid vir spelers om te leer om hokkie te geniet, binne die perke van die reëls, en elke lid van die span het ‘n kans gekry om op die veld te wees. Daar is geen tellings gehou nie, aangesien afrigters en skeidsregters die spelers tydens die spel reggehelp, aan die reëls herinner het en allerhande wenke met die spelers gedeel het.

Nadine Vermeulen van Riverview Prep.
Nadine Vermeulen van Riverview Prep.

Dié tipe spel help spelers om aan die spanning van wedstryde en reëls gewoond te raak sodat hulle as hulle ouer is meer gemaklik kan speel, al ‘n goeie begrip van die nodige vaardighede het en dit reeds begin slyp het.

Veral die jonger spelers het hul gate uit geniet en elke keer as daar vir hulle span ‘n doel aangeteken is, is daar op en langs die veld gejuig en gedans. Sommige van die ouer spelers se gesigte was die ene konsentrasie, veral as daar op die doelhok afgepeil is of die doelwagter moes duik om die bal te keer.

Die sonskyndag het gesorg dat ‘n hele paar toeskouers die koelte van die paviljoen of skadukolle langs die veld gaan opsoek het. Die Ouer-Onderwyservereniging het eetgoed verskaf en musiek oor die luidsprekers het die geleentheid baie gesellig gemaak. Daar word deur die jaar verskeie soortgelyke byeenkomste by plaaslike skole gereël om leerlinge soveel as moontlik blootstelling aan die sport en wedstryd-omgewing te gee sodat hul geensins vir groter skole hoef terug te staan nie.

Kyk na meer foto’s hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button