Seweshokkie nou in pylvlak
Vanjaar sal daar 'n nuwe o/17-seweshokkiekampioen gekroon word. Die eindstryd van dié jaarlikse toernooi word vandag op Curro Nelspruit se kunsgrasvelde beslis.

Lowveld High School het verlede jaar die trofee omhoog gehou terwyl Hoërskool Nelspruit se o/15’s Curro in die eindstryd 5-0 geklop het.
Nie een van Curro se spanne het tot die eindstryd deurgedring nie.
Albei Penryn College se spanne het tot die finaal deurgedring en speel vir posisie een en twee teen Hoërskool Nelspruit uit. Die o/15’s van Penryn het verlede jaar teen Uplands College vir die derde en vierde plek uitgespeel terwyl die eerstes vir vyf en ses uitgespeel het. Hulle moes die knie 2-0 teen Curro gebuig het.
Penryn se eerstes lê na vier rondes boaan die punteleer met 21 punte waarvan hulle 10 wedstryde gewen het, een verloor en een gelykop gespeel het. NHS, tweede op die punteleer met 17, het net agt van hulle 12 wedstryde gewen waarvan hulle drie verloor het en een uitslag was gelykop.
Hoërskool Rob Ferreira se eerste span meet kragte teen Uplands College vir die derde en vierde plek, terwyl Uplands se o/15’s teen Lowveld High te staan kom.
Robbies se o/15’s ding vir posisie vyf of ses teen Bergvlam mee. Lowveld High en Vlammies se eerstes sal ook vir die plekke uitspeel.
So speel die spanne:
O/15
• 15:00 – Rob vs. Bergvlam (5/6)
• 15:30 – Uplands vs. Lowveld High (3/4)
• 16:00 – NHS vs. Penryn (1/2)
Eerstes
• 15:00 – LHS vs. Bergvlam (5/6)
• 15:30 – Rob vs. Uplands (3/4)
• 16:00 – NHS vs. Penryn (1/2).































