School sportSport

Laerskool Nelspruit het drie streekskampioene

Laerskool Nelspruit het drie hokkiespanne wat Woensdag as Ehlanzeni se streekskampioene gekroon is.

Die o/11-dogters het 4-0 met Laerskool Malelane afgereken, terwyl die o/12’s en die o/13’s ook hulle wedstryde maklik gewen het. Nellies se Duné Nortje het vroeg ‘n doel teen Penryn Prep aangeteken en Penryn het op hul beurt met ‘n doel teruggeslaan.

‘n Strafdoelstryd is tussen die spanne gehou om te kyk wie in die eindstryd teen Malelane te staan sou kom. Kristen Berry het Nellies se eerste strafdoel gemoker. Die doelwagter van Nellies, Rouxlé le Roux het net-net Penryn se doel gemis, en die telling was weer 1-elk. Shanesé de Clerck en Diani Erasmus se doele het ook verby die doelskieter se voete geglip.

“Rouxlé het haar uitstekend van haar taak gekwyt en drie pogings van Penryn gekeer,” het ‘n trotse o/11-afrigter van Nellies, Vanesse Schilling gesê.

Arili Boshoff het twee doele in die eindstryd teen Malelane in die doelhok geslaan terwyl Berry en Nortje ook punte op die telbord aangeteken het. “Die dogters het hulle harte uitgespeel en my hart ‘n slag laat mis. Elkeen van hulle het my baie trots gemaak,” vertel Schilling.

Witrivier se o/12’s het die knie met 1-3 teen Nellies gebuig en die o/13’s het Laerskool Laeveld met 2-0 geklop.

Lees ook: Laeveld o/13-hokkie eindig eerste in Ehlanzeni en tweede in Mpumalanga

Whities se o/13-seuns het die gasheerskool, Uplands Preparatory 2-1 ore aangesit. Laasgenoemde se o/11’s het Witrivier 4-0 verslaan.

“Die 2016 hokkie-seisoen nader nou vinnig die einde. Laerskool Witrivier het vanjaar voorwaar ‘n besondere goeie hokkieseisoen beleef. Baie dankie vir elke speler se pragtige gesindheid op- en af van die veld. Julle is ware ambassadeurs,” het die hooforganiseerder van Witrivier se hokkie, Jenny Schoeman gesê.

IMG_3626 (Medium)

Laerskool Lydenburg en Witrivier se o/12-seunspanne deel die Ehlanzenibeker nadat die telling 0-elk was.

Lees ook: Witrivier se hokkiespelers deur na eindstryd

Die o/13-seuns- en dogterspanne het vroeër die dag nog in uitspeelwedstryde gespeel. Die spanne wat in die uitspele van die seuns koppe gestamp het was Witrivier en Riverview Preparatory, terwyl Uplands Prep en Laerskool Bergland in die ander kwalifiserende wedstryd in aksie was. Nellies se o/13’s het in die eerste kwalifiseringstryd teen Malelane kragte gemeet en Penryn Preparatory en
Laerskool Laeveld het ook vir ‘n plek in die eindstryd geveg.

“Die spelers het met baie goeie spanwerk en harde oefening ‘n sukses van hierdie hokkieseisoen gemaak. Hierdie span het sover al hulle wedstryde die seisoen gewen. Ons is baie opgewonde oor die Mpumalanga-uitspele. Daar gaan ons alles uithaal en wys,” het Hannelie van der Merwe van Laeveld gesê.

“Baie geluk aan al die spanne wat as kampioene uit die stryd getree het. Dankie ook aan Uplands wat hulle kunsgrasvelde vir ons beskikbaar gestel het,” het Joe Schoeman van Ehlanzeni-hokkie bygevoeg.

Uplands Prep's se o/11's is, (voor) Gabriel Zietsman, (middel) Duncan Pieterse, Kea Khoele, Josh Black, Jake Holland, Gregory Braithwaite, Josh Gardiner, Nic Chandler, (agter) Ethan Heyns, Mbuso Makhubela, Andile Khoza, Torr Turner, Gavin Stratford (afrigter) Buthulwazi Buthelezi en Vuxa Hlathswayo.
Uplands Prep’s se o/11’s is, (voor) Gabriel Zietsman, (middel) Duncan Pieterse, Kea Khoele, Josh Black, Jake Holland, Gregory Braithwaite, Josh Gardiner, Nic Chandler, (agter) Ethan Heyns, Mbuso Makhubela, Andile Khoza, Torr Turner, Gavin Stratford (afrigter) Buthulwazi Buthelezi en Vuxa Hlathswayo.

Altesaam 12 plaaslike spanne gaan aan die Mpumalanga-uitspele deelneem. Die seuns se uitspele vind komende naweek plaas terwyl die dogters 23 tot 24 September speel. Al die wedstryde word in Witbank beslis.

Die spanne wat na die Mpumalanga-eindstryde deurgedring het kan op www.lowvelder.co.za gesien word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button