Vlammies se sewes hou skild omhoog
Hoërskool Bergvlam se J&M-sewesrugbyspan het die afgelope naweek aan 'n toernooi by Durban High School deelgeneem.

In die eerste wedstryd het Bergvlam teen St. Charles te staan gekom en met 22-7 die stryd verloor. Junior Kotze het die span se enigste drie gedruk.
Daarna het die span in ongunstige weersomstandighede hulle volgende twee wedstryde naelskraap verloor.
Lees ook: Schools cricket final goes down to the wire
Die wedstryd teen Hilton was ‘n naelbyter toe Vlammies net-net met 12-10 geseëvier het. Kotze en Lorenzo Southon het in hierdie kragmeting die drieë ingeryg. Clifton het in die halfeindstryd vir Vlammies op die veld gewag en hier het die plaaslike span ook 21-17 gewen. Weer was Kotze en Southon goud werd vir hulle span. Clinton Coetzee het ook ‘n aandeel tot die sege gehad.
In die eindstryd het hulle teen die gasheerskool te staan gekom en met ‘n telling van 36-20 as wenners van die veld afgestap.
“Die seuns het hulle harte uitgespeel en ek is baie tevrede met hulle vertoning. Ons sien uit na ons eie sewestoernooi wat hierdie naweek aangebied word,” het die afrigter en spanbestuurder van Bergvlam, Hugo Harmse gesê.
Vlammies het die skild omhoog gehou en Dannilsen Mkhatswa is as speler van die wedstryd aangewys.
Die eerste wedstryde skop vandag om 14:00 af. Bergvlam en Lowveld High School is die eerste twee plaaslike spanne wat op die dag in aksie gewees en die kragmeting begin 14:40.
