Kookwater-atletiek in stomende hitte
Nie eens die berugte Laeveld-hitte wat verlede Donderdag die kraaie behoorlik laat gaap het, kon Hoërskool Nelspruit en van die ander Laeveld-skole se atlete van 'n hele paar spog-vertonings weerhou het nie.

Die tweede van NHS se voorseisoen-byeenkomste, was weereens ‘n groot sukses, en het gewys dat meer atlete die winterroes begin afskud en groot belofte vir 2017 toon.
Seuns o/15
NHS se Douw Kruger het met stewige vertonings in spiesgooi (43,10m), gewigstoot (14,21m) en skyfwerp (41,33m) die oog van die toeskouers gevang. Spanmaat Jacques Marais het met afstande van 14,03m (gewigstoot), 41,46m (skyfwerp) en 5,79m (verspring) uitgeblink. Attie Smit en Rob Ferreira se Thapelo Segage, het hulle tweestryd (hierdie keer in die 1 000m) hervat, nadat hulle verlede week skouer aan skouer in die 800m slaags geraak het. Dit was weer Smit wat net-net eerste oor die wenpaal gehardloop het (2:53:7 teenoor 2:54:1). Die vinnigste o/15 van die dag, was Robbies se Vusi Ndlovu, wat die 100m in 11,7sek voor Lydenburg se Johannes Beytell (11,8sek) weggeraap het. In die hoogspring, het Markus Klopper (Rob) en Bendile Sefunda (Loweld High School) die 1,70m-merk gehaal.
Lees ook: Atleet maak spiesgooi-geskiedenis

Dogters o/19
Nerina Visser was in al drie haar items onstuitbaar. Sy het die 100m (12,9sek), 200m (26,8sek) en 300m-hekkies (47,4sek) gewen en sal, indien sy beseringvry bly, gewis nie sommer in die nuwe jaar in die Laeveld geklop word nie. Anke Engelbrecht (100m, 13,2sek, 200m, 28,4sek en verspring, 4,85m) het ook baie goed vir NHS vertoon. Zuleka Breedt het 29,40m in die spiesgooi aangeteken – ‘n voorsmakie van groter afstande wat kan volg.
Benewens genoemde uitslae, was daar nog heelwat ander vertonings om oor opgewonde te raak:
• 300m-hekkies, o/17 – Jaytee Boers (NHS) – 43,9sek
• Verspring, o/17 – Damien Ondendaal (Rob) – 6,05m
• Hoogspring, o/17 – Adriaan van Aarde (NHS) – 1,65m
• Skyfwerp, o/17 – Wian Otto (NHS) – 37,47m, ook Estiaan Schroeder (NHS) – 36,16m
• Spiesgooi, o/17 – Donald Alderson (NHS) – 44,79m
• Skyfwerp, o/19 – Henco Pieters (NHS) – 40,48m
• 100m, o/15 – Mandi Botha (Rob) – 13,3sek
• Gewigstoot, o/17 – Sumarie Bekker (Rob) – 11,91m, ook Christine Kruger (Rob) – 11,32m
• Hoogspring, o/13 – Thabiso Mathebula (Witrivier.) – 1,65m
• 200m, o/13 – Nicolize Aucamp (Laerskool Nelspruit) – 28,5sek, ook Rhode Nel (Nellies) – 28,6sek en Nicci Viljoen (Nellies) – 28,6sek.
Die aandag verskuif nou na môre by die baan en veld van Rob Ferreira, waar die volgende byeenkoms aangebied sal word.

