School sportSport

Nelspruit se top-atlete oortref hulleself

Die jaarlikse Elardus Erasmus Top 20 Atletiekbyeenkoms wat altyd in Oktober op Mookgophong (Naboomspruit) aangebied word, is sekerlik, wat standaard betref een van die grootse skole-byeenkomste in Suid-Afrika.

Hoërskool Nelspruit se top-atlete (10 seuns en 10 dogters) skuur daar skouers met die bestes van die bestes, want meer as 40 skole uit die noordelike provinsies, elk met sy beste 20 atlete, is gewoonlik in aksie.

Vanjaar het die Nellies, veral wat die seuns betref, ‘n baie sterk span gestuur. Vir die eerste keer slaag die Laevelders daarin om (vir die beste 10 vertonings) ‘n gemiddeld van bo die 1 000 puntekerf, te behaal.

Uiteindelik teken NHS ‘n gemiddeld van 1 032,7 aan. Om hierdie ongelooflike mylpaal te kon bereik, moes daar natuurlik ‘n paar uithalervertonings gewees het. Die strawwe ABSA-tabel eindig by 1 200 punte, wat as die ”volmaakte” prestasie beskou word.

Tertius Mentz (Small)
Tertius Mentz.

Jacques Marais (o/14) het hierdie uitsonderlike kruin bereik, toe hy die 1kg-werpskyf op ‘n yslike 49,96m laat grondvat het. As in gedagte gehou word dat Marais in Februarie, die interhoërtitel op Lydenburg met 40,80m ingepalm het, kan duidelik gesien word dat hierdie jong atleet hard gewerk het.

Spiesgooier, Joshua Maass het die stang styf vasgebyt en met ‘n gooi van 69,39m, eersgenoemde se Nellie-rekord vir o/16 (verlede jaar in Oos-Londen opgestel) met meer as ‘n meter verbeter – 1 178 Absa-punte werd.

Dit bring ons by Werner Bouwer, vanjaar se nasionale spiesgooikampioen (o/19). Skaars drie weke gelede, het Bouwer almal laat regop sit toe hy met 71,91m die eerste Laevelder geword het om 70m te oorskry.

Wie sou kon dink, dat hy, voordat hy sy skoolloopbaan voltooi, nog vier meter by daardie pragafstand sou voeg? Sy reusegooi van 75,91m plaas hom in die nommer twee posisie van alle o/19’s in die land, asook nommer ses op die nasionale ranglys vir senior mans vir 2016.

Megan Nel.
Megan Nel.

Sy 1 161 punte het dan ook ruim tot NHS se groottotaal bygedra. Nog ‘n 1 000+ vertoning, was Marais se 5,79m in verspring (1 029 punte).

Onder die dogters, het veral Suzaan Nel (verspring, o/14 – 5,04m, 921 punte) en Carli Killian (hoogspring, o/15 – 1,55m, 905) uitgeblink. Michelle Bouwer se 35,68m in spiesgooi vir dogters o/15, het Menanto de Beer se vorige Nellie-rekord van 35,25m, uit die rekordboeke gevee. Bouwer het hiermee 871 punte tot NHS se uiteindelike gemiddeld van 842 (vir die dogters) bygedra.

Die volgende vertonings was vir NHS se gemiddelde verantwoordelik
Seuns
1. Jacques Marais (o/14), skyfwerp – 49,96m (1 200)
2. Joshua Maass (o/16), spiesgooi – 69,39m (1 178)
3. Werner Bouwer (o/19), spiesgooi – 75,91m (1 161)
4. Jacques Marais (o/14), verspring – 5,79m (1 029)
5. Tertius Mentz (o/16), 800m – 1:57.90 (993)
6. Jaytee Boers (o/15), 800m – 2:02:47 (979)
7. Ben Strydom (o/16), 200m – 22:58 sek (962)
8. Lourens Potgieter (o/14), 100m – 11:45 sek (959)
9. Douw Kruger (o/14), skyfwerp – 41,36m (936)
10. Ben Strydom (o/16), 100m – 10:94 sek (930).

Dogters
1. Suzaan Nel (o/14), verspring – 5,04m (921)
2. Carli Killian (o/15), hoogspring – 1,55m (905)
3. Michelle Bouwer (o/15), spiesgooi – 35,68m (871)
4. Suzaan Nel (o/14), 100m – 12.88 sek (869)
5. Marné van Aarde (o/16), gewigstoot – 12,14m (859)
6. Megan Nel (o/15), verspring – 4,87m (823)
7. Linmari Potgieter (o/16), hoogspring – 1,50m (809)
8. Nicola Cronje (o/16), 400m – 61,71 sek (795)
9. Carli Killian (o/15), verspring – 4,76m (794)
10. Marné van Aarde (o/16), spiesgooi – 35,40m (775).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button