Banda is provinsie se top junior veldatleet
Hoërskool Bergvlam se verspringheld, Maudas Banda (18) is tydens Mpumalanga se Sportprysuitdelingsfunksie, as die beste junior veldatleet vir 2016 aangewys.

“Van die provinsie se top-atlete word na die spoggeleentheid uitgenooi en dit maak die toekenning soveel meer spesiaal,” het Banda gesê.
Tydens die ASA-kampioenskappe wat vroeër vanjaar op Germiston Stadion plaasgevind het, het hy nie net met ‘n goue medalje gespog nie, maar hy het ook ‘n nuwe persoonlike beste afstand van 7,50m in sy rekordboek vasgepen.
Lees ook: Marais, Banda en Khoza goud werk
Banda, saam met Hoërskool Nelspruit se Naas Marais is deel van die span wat aan die AUSC streek-vyf se Jeugspele wat Desember in Luanda, Angola plaasvind, gaan deelneem.
Die Laeveld neem aan die einde van die jaar afskeid van Banda. Hy wag nog om te hoor oor die moontlikheid van ‘n sportbeurs by die Universiteit van Johannesburg. “My doelwit vir die nuwe seisoen, is om die agtmetermerk te verbeter en om deel van UJ se atletiekfamilie te word.”
Lees ook: Een sprong weg van plek na Colombië
Vir Banda was dit ‘n voorreg om nie net sy skool nie, maar ook sy mede-atlete trots te kon maak. “Ek gaan die Laeveld mis. Dankie vir die geleentheid om ‘n inspirasie vir jonger atlete te kon wees. Daar waar ek gaan, hoop ek om my skool en die Laeveld se naam hoog te hou.”

