Die Lanies spring weg met hul interhuis
Dirigente het met kleurvolle uitrustings en dawerende krete gesorg dat Laerskool Malelane se interhuis Vrydagoggend op 'n vrolike noot afgeskop het.
Laerskool Malelane se drie huisspanne, die Visarende, Berghane en Kroonarende, het grootmoedig gewedywer om as die wenspan gekroon te word tydens Vrydagoggend se interhuis-atletiekbyeenkoms.
Leerlinge het probeer om aan al die items deel te neem om so meer punte vir hul spanne te verdien.
Die bewolkte weer het gesorg dat die deelnemers nie te warm kry nie, maar ‘n harde reënbui het die byeenkoms kortgeknip. As gevolg daarvan moes die laaste items toe Maandag afgehandel word.
Die beste atlete in elke item is met ‘n medalje beloon, wat sommige die hele dag trots gedra het, selfs terwyl hulle aan ander items deelgeneem het.
Die topatlete van die byeenkoms is met trofeë beloon: Khaya Sengway is met 1 980 ASA-punte as senior victor ludorum gekies, met Hope Madonselase 2 390 ASA-punte wat haar die senior victrix ludorum-trofee besorg het.
Die juniors was Melo Khoza met 990 ASA-punte en Qhawekazi Mkhatshwa met 1 070 ASA-punte.
Teagan Terblans is as die beste atleet van die byeenkoms aangewys vir haar skitterende vertoning tydens die o/11-gewigstoot.

Die Visarende het die byeenkoms met 556 punte gewen, met die Berghane in tweede plek met 302 punte en die Kroonarende derde met 284 punte.
Twee atlete wat blitsvinnig op die veld was, het twee rekords verbeter: Siyavuya Mnisi vir hekkies o/10 en Moagi Moletsane in die o/9’s se 80-meter.
Lanies wat vir die skoolspan gekies is, is hard aan die oefen vir al die byeenkomste wat voorlê.
Saterdag gaan hulle by Laerskool Laeveld deelneem, Dinsdag is daar ‘n subkringbyeenkoms by Laerskool Malelane en volgende Saterdag ‘n kringbyeenkoms ook op die Lanies se tuisveld.






