Shana, Naas stel elk twee rekords op
Skiwi van Hoërskool Nelspruit, Shana Scott is een van twee atlete wat elk Dinsdag twee nuwe rekords by NHS se BUCO-interhuisatletiekbyeenkoms, opgestel het.

Dit is nie al nie. Sedert die skool se laaste voorbereidingsbyeenkoms in September, het sy haar afstande in die skyfwerp en spiesgooi verbeter.
Sy het in September ‘n afstand van 24,23m vir dogters o/13 in die skyfwerp gegooi en vroeër die week dié afstand
tot 28,47m verbeter.
Haar spies het Dinsdag vyf meter verder as in haar laaste byeenkoms in September deur die lug getrek en ‘n goue medalje met ‘n afstand van 31,48m verower.
NHS se sportseun van die jaar, Naas Marais het twee nuwe rekords in onderskeidelik gewigstoot en skyfwerp vir seuns o/19 vasgepen. Naas het tydens die Desembervakansie na Angola vir die Streek 5-spele getoer waar hy met ‘n goue medalje in skyfwerp teruggekeer het. Hy het Dinsdag sy prestasie in dié item voortgesit en het ‘n afstand van 48,68m gegooi. Sy ander rekord was vir seuns o/19-gewigstoot met ‘n afstand van 16,07m.
Die trofeë vir beste prestasies vir die veld- en baanatleet van die dag, is aan Jacques Marais (o/15-diskus), Ben Strydom (o/17- 200m), Linmari Potgieter (o/17-hoogspring) en Suzaan Nel (o/15-400m) opgeraap.
Die Trojane se Nerina Visser is as die dogters o/19 se victrix ludorum vir haar eerste plekke in die 100-, 200- en 400m, 100- en 400m-hekkies, aangewys.
Nóg ‘n spoedvraat, De Villiers Basson (Atheners) het die o/19’s se victor ludorum-trofee ontvang. Hy het goue medaljes in die 100-, 200- en 400m asook die 800- en 1 500m verower.
Rekords wat tydens die interhuis opgestel is:
• Van Reenen Kruger (o/14) – 100m-hekkies, 15,40sek
• Devon Nell (o/16) – 400m-hekkies, 58,52sek
• Suzaan Nel (o/15) – 400m, 62,08sek
• Shana Scott (o/14) – skyfwerp, 28,47m
• Shana Scott (o/14) – spiesgooi, 31,48m
• Ilke Joubert (o/19) – gewigstoot, 11,08m
• Stefan Smit (o/17) – spiesgooi, 63,28m
• Joshua Maass (o/17) – verspring, 6,73m
• Naas Marais (o/19) – gewigstoot, 16,07m
• Naas Marais (o/19) – skyfwerp, 48,68m.


