Shanese, Anje goed op dreef vir atletiekseisoen
Die 12-jarige Shanese de Clerck van Laerskool Nelspruit kan twee nuwe rekords agter haar naam skryf - een wat boonop 16 jaar lank gestaan het.

Sy het Nita Botha se tyd van 21,72 sekondes in die 150m-hekkies na 21,69 verbeter.
Haar persoonlike beste afstand in die verspringput is 4,48m, maar verlede week tydens Nellies se interhuisatletiekbyeenkoms het sy ook Nicolene Penn se rekord van 4,41m wat in 2001 opgestel is, verbeter deur die maatband tot by 4,46m te laat uittrek.

As daar een vertoning by dié byeenkoms was waaroor daar nog lank gepraat gaan word, is dit Nellies se mees veelsydige dogteratleet van die jaar, Anje Nel (o/13).
Lees ook: Opkomende sterre presteer puik in atletiek
Anje se vyf rekords in die 200m-naelloop, 200m-, 150- en 75m-hekkies en hoogspring het nie net die ondersteuners op die punt van hul stoele gehad nie, maar ook die beamptes laat skarrel.
Die 200m-hekkies was egter haar beste prestasie van die dag. Sy het Carli Killian se tyd in die 200m-hekkies van 35,15sek wat in 2 000 opgestel is, met meer as 0,2sek verbeter.
Nog ‘n rekord wat in die slag gebly het, is een wat in 2014 aangeteken is, die 1,47m in hoogspring. Anje se 1,54m staan nou in die rekordboeke opgeteken.
Die kranige 13-jarige atleet se naam is ook in die boeke vir haar tyd van 28,75sek in die 200m-naelloop en 12,66sek in die 75m-hekkies, geskryf.
Buiten die dogters se rekords, het Kiara Craven (o/10, hoogspring), Megan Botha (o/10, verspring), Ruben Greeff (o/12, 1 200m), Vaughn van Zyl (o/10, gewig-stoot), MJ van Staden (o/10, gewigstoot), Ashley Erasmus (o/12, gewigstoot), Larese Combrink (o/13, 100m en 200m) en Cathlene van Zyl (o/13, gewigstoot) se besonderse prestasies ook die boeke gehaal.
Spanuitslae
• Arende – 427
• Buffels – 381
• Mambas – 367 – dié span het die sangbeker gewen
• Cheetahs – 350.
Victor ludorum
• Junior – Jonathan Vermaak
• Senior – Wihan Lambrechts.
Victrix ludorum
• Junior – Zoe Cilliers
• Senior – Kiara Craven.







