Nellie-swemmers eindig tops by Ehlanzeni Interhoër
Die Nellies het die gala gedomineer en die dag met amper dubbel die hoeveelheid punte as die skool in die tweede plek geëndig.
Laeveld-skole se atlete was nie die enigste leerlinge wat verlede week aan ’n Interhoër deelgeneem het nie, die Ehlanzeni Interhoër-gala is deur Hoërskool Nelspruit (NHS) aangebied en gewen.
Die Nellies het as gasheerskool by vanjaar se gala op 19 Februarie by Van Riebeeckpark opgetree. Dié streek se beste swemmers het meegeding en het die Laeveld se talent ten toon gestel. Skole wat deelgeneem het, is NHS, Penryn, Uplands, Hoërskool Rob Ferreira, Hoërskool Barberton, Komatipoort Akademie (slegs een swemmer) en Curro Nelspruit.
Die kompetisie was straf en die weer was nie ideaal nie, met ligte reën wat deur die dag geval het en die swemmers se taak effens bemoeilik het.
LEES OOK: IN FOTO’s: BUCO Interhoër 2025 – Hoërskool Nelspruit
Dit het nie verhoed dat van die swemmers rekords verbeter het nie. NHS se Neil Burger (18) was blitsig in die water en is die trotse eienaar van drie nuwe individuele rekords en een aflosrekord. Neil het in 100 m-vryslag sy eie rekord van verlede jaar verbeter, asook nuwe rekords in die 50 m-vryslag en 50 m-vlinderslag opgestel.
Hy het saam met Henning Radley, Ethan Esterhuizen en Dylan Stolts die seuns se o. 19-vryslagaflosrekord verbeter in ’n tyd van 01:44;95. Dawid de Villiers (15) en Anja Buitendach (16) van NHS het ook nuwe rekords in hulle 100 m-vryslagresies opgestel.

Dawid was saam met Amore Oosthuizen, Minette Swartz en Xander Grobler in NHS se gemengde 15-jaar medley-aflosspan wat ook die rekord verbeter het. Curro Nelspruit se Aiden Els (15) het ’n nuwe rekord in die 100 m-rugslag opgestel en Miela Banza (16) het die rekord in die 50 m-borsslag verbeter.
NHS was die algehele wenners van die dag met ’n totaal van 1 160 punte. Rob Ferreira was tweede met 640 en Uplands was derde met 450 punte.
Die volledige puntelys is:
1. Hoërskool Nelspruit – 1 160
2. Rob Ferreira – 640
3. Uplands – 450
4. Curro Nelspruit – 440
5. Penryn – 371
6. Hoërskool Barberton – 80
7. Komatipoort Akademie – 24.
Individuele trofeewenners:
• o. 14-victor ludorum – Aiden Els, Curro Nelspruit
• o. 15-victor ludorum – Dawid de Villiers, NHS
• o. 15-victrix ludorum – Minette Swarts, NHS
• o. 16-victor ludorum – Timon Swart, Curro Nelspruit
• o. 16-victrix ludorum – Anja Buitendach, NHS
• o. 17-victor ludorum – Samuel Tryhou en Eben Obermeyer, beide van NHS
• o. 17-victrix ludorum – Liza Victor, Uplands
• o. 18-victor ludorum – Neil Burger, NHS
• o. 18-victrix ludorum – Tiffany Marshall, Rob Ferreira.













