Airlink Pumas wys die Nellies hóé
Die Nellies het vele lesse geleer en wyshede ontvang van die Pumas af.
Dit is vir seker die droom van baie jong seuns om eendag ‘n professionele rugbyspeler te wees.
Op 1 Maart het die Airlink Pumas, die Nellie Leeu Rugbymannetjies die geleentheid gegee om hul vaardighede op te skerp en sodoende een treetjie nader aan hulle drome te kom.
Alex Jonker, een van die Nellies-rugby afrigters, het die seuns herinner dat daar baie lewenslesse in rugby opgesluit lê. Hy het beklemtoon hoe belangrik dissipline is, sowel as die vermoë om in spanverband saam te werk.
“Jy moet ‘n goeie spanmaat wees en mekaar ondersteun,” het hy gesê. “In moeilike tye hou ons ons koppe hoog en werk hard, en wanneer dit goed gaan, moet ons dankbaar en nederig bly.”
LEES OOK: Airlink Pumas pounce on SWD Eagles in SA Cup opener
Die Pumas het ‘n deeglik beplande kliniek aangebied en die seuns se opgewondenheid was tasbaar. Hoe dikwels kry ‘n mens die geleentheid om saam met ‘n professionele span die dag op die rugbyveld deur te bring? Die oggend het begin met opwarming en oefeninge, waar die seuns in spanverband geroteer het. Na ‘n welverdiende ruskans op so ‘n warm dag, het die seuns posisie-spesifieke oefeninge gedoen.
Hierdie geleentheid was uniek, nie net vir die seuns nie, maar ook vir die afrigters wat met nuwe kennis en vaardighede van die Pumas se afrigting- en kondisioneringspan bemagtig is.
Laerskool Nelspruit wil graag sy opregte dank uitspreek aan die Pumas vir die waardevolle kennis en tyd, asook ‘n spesiale dankie aan Jimmy Stonehouse, MJ Mentz en die hele span vir hulle tyd en toewyding.


















