IN FOTO’S: Nellies se eerste rugbyspan eindig seisoen met EG Jansen-oorwinning
Die oorwinning teen EG Jansen was slegs die Rhinos se tweede wen vir die seisoen, maar dit was beslis onvergeetlik.
Hoërskool Nelspruit se A-spanne het Saterdag, 9 Augustus, ‘n tawwe seisoen op ‘n hoë noot teen Hoërskool Dr. EG Jansen afgesluit.
Na ‘n goeie jaar in 2024 was die Nellies vol hoop vir die 2025-seisoen, maar dit was toe ‘n taai een vir hierdie manne. Ná voor verlede naweek se wedstryde, die Nellies se laastes van die seisoen, was hulle onder op die gekombineerde punteleer in die SDC Noordvaal-beker.
Hulle het ‘n perfekte naweek teen EG Jansen benodig om kans te staan om die afskaling vanaf die Bekerafdeling na die Plaatafdeling te vermy. Ongelukkig het die Nellies se B- en C-spanne teen EG Jansen gesukkel, met slegs drie oorwinnings (o. 16B, o. 16C en die tweedes) uit hul agt wedstryde.

Die A-spanne het beter gevaar. Die o. 14A’s het hard teen die manne van Boksburg baklei, maar niks kon die twee spanne onderskei nie en na die eindfluitjie, was die telling 5-5.
Ná hulle was die o. 15’s in aksie, en hulle het net-net met 5-8 in EG Jansen se guns, verloor. In die o. 16’s se stryd was die twee skole ook nie onderskeibaar nie, en die eindtelling, 28-28, was te danke aan ‘n briljante doelskop deur EG Jansen se losskakel net voor die eindfluitjie.

Almal se fokus was die middag op die eerste spanne se wedstryd gerig. NHS se tweede mees suksesvol span hierdie seisoen, die Rhinos, was vasbeslote om vir die toeskouers ‘n rede te gee om hulle luidkeels te ondersteun. Die matrieks in die span het die laaste wedstryd van hul hoërskoolloopbaan gespeel, en hulle was die dryfkrag agter die Rhinos.
EG Jansen se eerstes kon nie die Rhinos keer nie, en die wedstryd is op ‘n gepaste wyse deur kaptein Vaughn van Zyl beëindig, wat ‘n drie gedruk het om ‘n 27-21-oorwinning te verseker.
Die dag se uitslae was as volg:
• o. 14A: 5-5
• o. 14B: 11-34
• o. 14C: 15-31
• o. 15A: 5-8
• o. 15B: 10-31
• o. 15C: 15-24
• o. 16A: 28-28
• o. 16B: 10-3
• o. 16C: 29-17
• 3des: 10-29
• 2des: 21-7
• 1stes: 27-21
> Foto’s: Blake Linder

















































