Chris Barnard se Tango die gewildste by Innibos
Die bekroonde skrywer en lid van Innibos Nasionale Kunstefees se direksie, Chris Barnard, het hierdie jaar met sy komedie, Tango, die toekenning vir die gewildste produksie by die fees, ontvang.
JOHANNESBURG – Die bekroonde skrywer en lid van Innibos Nasionale Kunstefees se direksie, Chris Barnard, het hierdie jaar met sy komedie, Tango, die toekenning vir die gewildste produksie by die fees, ontvang.
Chris, sy vrou Katinka Heyns en hul twee seuns, Simon en Tiaan, het die intieme geleentheid in Johannesburg bygewoon.
Tango was 100 persent tydens vanjaar se fees uitverkoop en met 2213 kaartjies kon hy nie vir beter gevra het nie.Chris het gese die opdrag van Innibos om ‘n stuk te skryf, het om effe onkant gevang. Toe hy ook kort daarna tydens ‘n gewapende roof op sy plaas buite Nelspruit beseer is, het hy begin twyfel of hy dit sou kon doen. “Ek het besluit om ‘n komedie te skryf, want as ek toe ‘n drama aangepak het, sou dit maar ‘swart’ gewees het”, het hy gese. Met Katinka se hulp en vaaardigheid as regisseur van die stuk, kon hulle die beste akteurs bymekaar maak en die res het hy in haar goeie hande gelaat.
Op haar beurt het Katinka gese dat Marius Weyer, Cobus Rossouw en Tobie Cronje onmiddellik “ja” gese het vir die stuk voordat hulle nog eers die teks gesien het. “Om hierdie stuk te skryf was vir Chris terapeuties. Hy het eers gese dat as hy einde Januarie vanjaar finaal sou besluit of hy dit sou kon doen. Hy het elke dag geskryf en selfs toe hy in Februarie 25 bladsye van sy teks verloor het, het dit hom nie ondergekry nie.Die eerste week in Maart was die teks klaar”, het sy gese.
Hoewel die opdragstuk deur Innibos gefinansier is, het die Dagbreek Trust se Astrid de Vos ook gehelp om fondse by te sit om die gesogte akteurspan te vergoed.
Tango se gewildheid was nie net tot Innibos beperk nie en hulle het in Oktober vanjaar by Aardklop net so ‘n suksesvolle speelvlak beleef en is daar ook as die gewildste feesproduksie aangewys. Tango sal volgende by die Woordfees in Stellenbosch op die planke wees.
Een van Suid-Afrika se gewildste akteurs, Tobie Cronje, het tydens dieselfde geleentheid ook ‘n toekenning ontvang vir sy kunstenaarsbydrae tot die fees. Innibos se Sandra Jacob het gese Tobie is volksbesit en diep in die harte van Suid-Afrikaners ingegrawe. Hy het diep spore in die toneel- en filmbedryf gestap.
By Innibos was Tobie as Daan in Tango te sien asook in die eenmanstuk, Ballade van ‘n banggate ui die pen van Barry van Rensburg. ‘n Bewoe Tobie, wat die week 65 geword het, het gese dit was vir hom ‘n baie groot eer en het sy waardering vir die erkenning uitgespreek.
Hy het Barry bedank vir die stuk wat hy geskryf het en veral sy jarelange vriendin, Katinka Heyns, bedank vir die rol wat sy in sy lewe speel.
