‘n Akoestiese belewenis op een verhoog
Die produksie is meer as net 'n lewende musiekgeleentheid - dit is 'n belewenis - 'n Paar vriende wat die pad aandurf om hul stories en liedjies regoor die land saam op een verhoog te deel.
MBOMBELA – Kanada Records bied met trots die Afrikaans Akoesties toer aan wat vier van die land se talentvolste jong liedjieskrywers/sangers op een verhoog Saterdag by Stoep sal plaas.
Die produksie is meer as net ‘n lewende musiekgeleentheid – dit is ‘n belewenis – ‘n Paar vriende wat die pad aandurf om hul stories en liedjies regoor die land saam op een verhoog te deel.
Van Bouwer Bosch se skreeusnaakse humor, Len Muller se inspirerende lirieke tot die hartroerende liedere van talentvolle Kaleidoskoop en Deon Meiring kan by die vertoning verwag word. Dit is vermaak vir die hele familie wat Afrikaanse volksmusiek weer ‘n platform gee.
Meer oor die kunstenaars
Bouwer is ‘n welbekende Suid-Afrikaanse verhoogkunstenaar en akteur. Hy is beter bekend as die hoofsanger van Straatligkinders en Dans Dans Lisa, met Deon Meiring van Glaskas. Bouwer is deel van ‘n produksiemaatskappy wat musiekvideos saamstel wat op die DSTV-kanale MK en kykNET se Jukebox te siene is. Hy het al meer as 15 MK-musiekvideos op gewilde aanvraag.
Kaleidoskoop is ‘n Afrikaans folk- en popgroep en komponeer hul liedjies self met ‘n positiewe, maar tog realistiese perpektief wat beslis ‘n boodskap van hoop inhou. Hulle albums verkoop uitstekend, nog voordat dit op die rakke is. Hulle het al die Huisgenoot Tempo-toekenning in 2012 vir die beste kontemporêre volwasse groep gewen. Hulle maak pragtige musiek met behulp van kleurvolle harmonieë en skerp poliritmiese akoestiese instrumente. Hule laat jou toe om met ‘n vars oog na die kleur van liefde, mensdom en die lewe te kyk deur ‘n paar wonderlike Afrikaanse treffers wat self deur hulle geskryf is, asook talle bekende titelsnitte.
Deon Meiring is beter bekend as die hoofsanger van die suksesvolle groep, Glaskas. Hy het onlangs begin om sy eie liedjies op te neem en het amper dadelik daarin geslaag om sy sukses met Glaskas en Dans Dans Lisa na die soloverhoog te bring. Hy het sy eie genre ontwikkel wat hy Suid-Afrikaanse volksmusiek noem.
Len Muller het sy eerste uitgebreide album in 2012 vrygestel. Sy eerste enkeltreffer “Winter” word tans op kykNET Musiek gespeel. Hy is tans besig om sy nuwe album op te neem en dit sal later die jaar vrygestel word.
Afrikaans Akoesties begin Saterdagaand om 19:00 by Stoep en kaartjies beloop R120. Navrae: Elsabé by 082-459-0343.
