Bierfees ‘n reuse sukses
Die Duitse Bierfees wat Saterdag by Loveley-Jubley net buite die dorp gehou is, het goeie aftrek van oraloor geniet.
Die Duitse Bierfees wat Saterdag by Loveley-Jubley net buite die dorp gehou is, het goeie aftrek van oraloor geniet.
Dit was ‘n geroesemoes van kleur en klank soos Barberton maar min aanskou.
Die fees het om 12:00 begin en na die aanvanklike stilte, wat ook nie langer as ‘n halfuur geduur het nie, was daar behoorlik gekuier met die Duitse Umpa-orkes, eg Duitse disse, en natuurlik bier.
Die kersie op die koek vir rugby-entoesiaste was defnitief toe die Springbokke die Wallabies op hul neuse laat kyk het.
Alhoewel baie van die feesgangers, wat meestal van buite Barberton afkomstig was, na afloop van die rugby die pad huis toe aangedurf het, was dié oorwinning net die rede vir sommige vrolike geeste om behoorlik uit te haal en te wys dat Afrikaners plesierig is!
By ten minste een jong man was dit duidelik dat dronkverdriet vir ‘n wyle ‘n mantel oor sy uitbundigheid gegooi het, maar vinnig het sy vriende hom weer op die regte pad gekry om in die vrolikheid te deel.
Almal wat deel aan die beplanning van die fees gehad het, veral die organiseerder Elmien Fitchet van Cura Events in Gauteng, kan hulself gerus op die skouer klop – dit was voorwaar uit die boonste rakke!
