Laevelder en Laurika Rauch gesels oor musiek
Sy was nog altyd daar. Haar musiek het baie van ons al aan die gang gehou, laat nadink, aangespoor of lekker laat lag. Die vrou en die musikant is een en dieselfde mens, wat van haar eerlike benadering getuig.
MBOMBELA – Laurika Rauch het Vrydagaand na haar vertoning by Emnotweni Arena gesels oor die jaar waarin haar bekende liedjie, “Kinders van die Wind” opgeneem is. “Dis 1978. Dis die jaar na Steve Biko se dood en Donald Woods het pas veilig in Londen aangekom. Ashton Kutcher is in hierdie jaar gebore. Suid-Afrika bou sy eerste kernwapen.”
“Ek was twee jaar oud,” skerts haar pianis, Devereaux van der Hoven-Oosthuizen.
Dit is 37 jaar gelede en geeneen kan die krag ontken waarmee Laurika Rauch “Ek het ‘n huisie by die see” Vrydagaand gesing het nie. Sy dra die musiek op so ‘n manier oor dat haar nuwe liedjies bekend klink. Haar ou treffers verloor nie hul krag nie en word steeds met passie oorgedra. Daar is niks tydelik aan haar nie.
Laevelder het Donderdag met haar gesels en ‘n opregte mens teëgekom waaruit eerlikheid straal. “Hoe kry jy dit reg om oor liefde en verlange te sing, sonder om soetsappig of dweperig te klink en dat mense na al die jare nie genoeg kan kry nie?” het die joernalis gewonder.
Laurika het groot agting vir liedjieskrywers en skrywers oor die algemeen en meen dit is grotendeels aan hulle te danke. “Hulle is die wyse manne en vroue van ons taal wat aanvoel wat gesê moet word en hoe dit gesê moet word.” Wanneer sy kies watter liedjies sy wil sing, probeer sy die kies wat universeel is, die toets van tyd kan deurstaan en waarmee Jan Alleman kan identifiseer.
Die oordrag van ‘n liedjie is wel ‘n kuns op sy eie.
“Die maak van ‘n nuwe snit of album is ‘n realistiese proses. Die skrywer van die liedjie is die skepper daarvan en ek is die interpreteerder.” Met hierdie besef wy sy haar daaraan toe om die lirieke van elke liedjie van haarself deel te maak. So wil sy die lirieke bestudeer en verstaan tot so ‘n mate dat sy dit aan mense kan oordra vir wie dit bekend sal voel en wie dit sal verstaan.
“Die maak van musiek gaan oor die vreugde van skep en besig wees met iets wat ‘n mens na ‘n ander plek toe vat. Vir die wat na ‘n optrede kyk, wil ek “Transports of delight” kan bied,” sê sy. Hierdie optredes bring ook groot genot vir die musikant. Sy vertel dat sy groepsvertonings baie geniet. “Dis so lekker om saam met ander musikante op te tree – die lekker bly ‘n mens sommer vir dae na die optrede nog by.”
Laurika het Vrydagaand na haar vertoning agtergebly om met die gehoor te gesels en CD’s te teken. Haar opregtheid en menslikheid was duidelik: “Ek hou daarvan om na ‘n vertoning CD’s te teken en met die mense wat in die gehoor
was in aanraking te kom. Ek wil hulle in die oë kyk en met die mense kan praat vir wie ek nounet gesing het.”
En Laurika Rauch sing vir jóú.
