FeaturesLifestylePeople

Sosiale media – ‘n vloek of ‘n seën?

MBOMBELA – Sosiale media is ‘n spreekbuis waarna mense hulle wend wanneer dit voel asof niemand anders luister nie. Dis ‘n plek waar ongeregtigheid aangespreek word voor ‘n wêreldwye gehoor. Dis op sosiale media wat die wêreld gesien het van die Krugerlaanskool-leerling van Vereeniging wat sy klasmaat aangerand het. ‘n Video van twee Hoërskool Overkruin-dogters …

MBOMBELA – Sosiale media is ‘n spreekbuis waarna mense hulle wend wanneer dit voel asof niemand anders luister nie. Dis ‘n plek waar ongeregtigheid aangespreek word voor ‘n wêreldwye gehoor.

Dis op sosiale media wat die wêreld gesien het van die Krugerlaanskool-leerling van Vereeniging wat sy klasmaat aangerand het. ‘n Video van twee Hoërskool Overkruin-dogters wat mekaar met vuiste bydam is op die Internet te sien. Hier in die Laeveld is ‘n leerling aan Kamhola High School in Emjindi in 2014 met ‘n mes gesteek. Videomateriaal van hierdie voorvalle het soos veldbrande versprei en die wandade is aan die kaak gestel.

Sosiale media is soms die enigste megafoon wat benadeeldes se hulpkreet die wêreld indra. Maar wat word van benadeelde kinders wat op dié beeldmaterial vasgevang is, nadat die wêreld hulle te hulp gesnel en duisende oor hulle lyding gegons het? Doen sosiale media in gevalle soos hierdie meer skade as wat dit ‘n goeie doel dien?

Dr. Benita Nel is Mpumalanga se provinsiale direkteur van Childline en het onlangs met Laevelder gesels. Childline Mpumalanga se maatskaplike werkers het opgemerk dat mense die oorsteek van morele grense op film vaslê en dit op sosiale media versprei. Hulle het die tendens bespreek en hulle mening oor vier sleutelkwessies gegee.
Hoekom verfilm mense sosiale en morele kwessies om dit op sosiale medianetwerke te versprei?
Daar is gevalle waar die videogrepe opgelaai word om ‘n probleem te openbaar en ‘n slagoffer te help. In ander gevalle word die video’s bloot versprei om die verspreider se aanhang op sosiale medianetwerke te vergroot. Afpersers gebruik verspreidingswebwerwe vir hul afpersingsdoeleindes, terwyl sommiges hul slagoffers opsetlik so verneder. Ongelukkig is daar in party gevalle mense wat ‘n sadistiese streep weg het en sulke video’s eenvoudig oplaai omdat hulle iemand sodoende wil leed aandoen.
Hoekom verkyk mense hulle daaraan wanneer hierdie plasings op sosiale medianetwerke verskyn?
Mense vind dit vermaaklik. Waar pornografiese materiaal ter sprake is, word dit vir seksuele plesier aangewend. Die materiaal is maklik verkrygbaar, wat die waarskynlikheid dat dit gekyk gaan word, verhoog. Boonop deel gebruikers die kykstof na ‘n mens se profiel toe sonder dat jy noodwendig daartoe toestem. Nuuskierigheid laat sosiale media gebruikers gaan kyk – baie mense wil op datum wees van die jongste kwessies wat heers op hierdie netwerke.
Wat sal die impak op ‘n minderjarige wees wanneer beeldmateriaal van hom/haar gemaak en versprei word waar hy/sy die slagoffer van aanranding is?
Daar wag grootskaalse trauma op hierdie kind. Hierdie trauma kan die vorme aanneem van post-traumatiese stresversteuring en depressie. ‘n Afname in selfvertroue en vernederingsgevoel kan verwag word. Sosiale isolasie is ook moontlik.
Sekondêre viktimisasie maak so ‘n kind se lewe net nog moeiliker – hy/sy kan maklik op skool en in die gemeenskap uitgesluit voel en sukkel om vriendskappe te maak en behou. Kinders sal ook soms weier om so ‘n kind te bevriend – hulle wil soms nie maats wees met ‘n kind wat ná so ‘n voorval verstoot word nie.
Wat is die invloed van gewelddadige beeldmateriaal op minderjariges wat daaraan blootgestel word?
Hulle begin dalk dink dat hierdie gedrag aanvaarbaar is en boots dit na. Afhangend van die kind se vlak van ontwikkeling en intellektuele kapasiteit, mag ‘n kind dit dalk as sosiaal aanvaarbaar beskou en aan ander kinders begin doen. Kinders wat slagoffers is van sulke gedrag, dink dalk dat dit normaal is, omdat hulle so baie daarvan sien.

So ook kan dit dalk gebeur dat simpatie met kinders wat slagoffers van sulke gedrag is afneem, omdat kinders afgestomp raak hierteenoor.

Die Suid-Afrikaanse Film- en Publikasieraad het op 16 Oktober 2013 vergader en onderneem om kinders te beskerm teen die negatiewe kant van digitale media.   Die raad het ‘n konsep-aanlynbeleid opgestel waarvolgens aanlyn-inligting geklassifiseer sal word na aanleiding van die inhoud daarvan. Die klassifikasie van aanlyn-inligting sal reguleer vir watter ouderdomme die inhoud gepas is.  Die distribusie daarvan sal gereguleer word om die kuberveiligheid van minderjariges te verseker.

Waar mediahuise soos Laeveld Media videomateriaal bekom, moet dit met sensitiwiteit hanteer word. Waar kinders op harde nuusvideo’s verskyn, word hulle identiteit as ‘n reël weerhou word.  Dit is wel so dat die versprei van videomateriaal soms ‘n sosiaal-relevante boodskap uitdra wat tot voordeel van die gemeenskap – en die minderjarige – strek.
Die regulasies wat die verspreiding van videomateriaal reguleer, moet nog finaal deur die Suid-Afrikaanse Film- en Publikasieraad bekragtig word.

Sosiale media netwerke soos Facebook en YouTube het wel hul eie stelle reëls waarmee hulle tot ‘n mate die inhoud wat op hierdie platforms gedeel word, reguleer.

Gebruikers word gemaan om by die reëls te hou en inhoud wat teenstrydig is daarmee, te rapporteer.
YouTube en Facebook se gemeenskaps-riglyne en gebruiksregulasies verbied eksplisiete seksuele materiaal, haatspraak en gewelddadige materiaal.
Lees meer hieroor op https://www.youtube.com/yt/policyandsafety/communityguidelines.html en https://www.facebook.com/communitystandards

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button