Blitsie spog met meer tegnologie en beter dinamika
Die nuwe model se onderstel en lugdinamika is uit motorsport geput. Ditto ook vir sekere van die ontwerpfilosofieë wat buite en in die kajuit gebruik word om die JCW van sy minder sportiewe stalmaats te onderskei.

Daar is min, indien enige ware motorentoesiaste wat nie weet van ‘n Mini Cooper nie. Die legendariese renjaer, John Newton Cooper uit Surrey, Engeland, het saam met sy vader Charles die Cooper Car Company in 1948 gestig en vanuit ‘n klein perseel bedryf vanwaar hulle eenvoudige goedkoop enkelsitplek Cooper-renmotors gebou het.
Hy het veral in die vyftigerjare bekendheid verwerf met sy onderstelontwerp vir agtergemonteerde enjins wat uiteindelik gelei het tot wat ons vandag nog in onder meer Formula 1 en Indianapolis 500 in gebruik sien.
Die gewildheid van Cooper se renmotors het uiteindelik onder veral Britse renjaers so toege-neem dat sy ontwerp selfs later in Formula 1 sukses behaal het met legandariese jaers soos onder meer Jack Brabham, Stirling Moss, Maurice Trintignant en Bruce McLaren. Cooper het later by die ontwikkeling van motors uit die British Motor Corporation betrokke geraak wat onder meer die klein Austin Mini vervaardig het. So het die Mini Cooper ontstaan wat fenominale suksesse in plaaslike en internasionale baan-, pad- en tydrenne behaal het.
Die Mini Cooper was na regte die eerste ware blitsbuks en is vandag nog vir baie die maatstaf in hierdie hoogs kompeterende en gewilde segment. Terwyl die “normale” Mini (daar is deesdae verskeie modelle in die Mini-modelreeks) steeds op sy beeld as pretvoertuig bou, het die drie-deur JCW-model oor die jare met BMW in beheer, heelwat meer tegnologie en verrigting bygekry sonder om te veel van sy rengerigte karakter te verloor.
Tog weet ek nie of John Cooper van die verskillende neonkleure sou hou wat die onderskeie rymodusse in die kajuit van die nuwe JCW identifiseer nie. Tog is die tradisionele hardebaard-hantering en sportiwiteit van ‘n JCW steeds daar, hoewel deesdae heelwat onder luukshede en elektroniese bestuurderhulpstelsels getemper. Die nuwe model se onderstel en lugdinamika is uit motorsport geput.
Ditto ook vir sekere van die ontwerpfilosofieë wat buite en in die kajuit gebruik word om die JCW van sy minder sportiewe stalmaats te onderskei. Die voorste sportsitplekke is byvoorbeeld eksklusief aan John Cooper Works-modelle, so ook die John Cooper Works-insignia op die deurdrumpels, rathefboom vir die ses-spoed outo- of hantratkas en ook die klein sportstuurwiel met sy ratpedale en vele skakelaars. Daar is ook sekere instrumentasie wat uniek tot die JCW-modelle is. Die vlekvrye staalpedale en voetrus asook die antrasiet-dakbekleding is ook eie aan die JCW-model.
Dit is egter by verrigting, hantering en padhouvermoë waar dit bo sy stalmaats in die Mini-modelreeks uittroon. Die nuwe Mini JCW kom met die kragtigste enjin ooit in ‘n Mini. Die 2,0L TwinPower 1 998 cc 4-silinder enjin se turbo, silinders en uitlaatstelsel is getoor om 170kW@5200-6000r/mi, wat 10% meer is as die vorige JCW-model.
Wringkrag is met 23% tot 320Nm verbeter en die 0-100kpu lopie neem nou slegs 6,1 sekondes vir die ses-spoed Steptronic-outokas en 6,3 sekondes vir die ses-spoed handrat-model. Topspoed is 246kpu. Die witjasse by Mini het dit egter reggekry om die brandstofverbruik en skadelike uitlaatgasse in ‘n gekombineerde EU-toetssiklus met 20% tot 5,7l/100km en 134g/km te verlaag.
Tydens die bekendstelling het ons die Mini JCW gery op ‘n verskeidenheid van Gauteng se roetes wat stads- en plattelandse paaie ingesluit het. Ten spyte van meer krag en 17” wiele met die Sport-modus geselekteer vir ‘n meer dinamiese rit, was die ryervaring in die nuwe model meer gedemp en gesofistikeerd. Hierdie nuwe model het eintlik ‘n heel gemaklike rit gebied.
Tydens ons gymkhana deur ‘n kort maar dinamiese baanuitleg kon ons die JCW se rendinamika beter beleef. Die stuur is heerlik direk, die nuut ontwikkelde Brembo-remme dodelik en die hantering vlymskerp. Die onderstel en vering het die JCW geplant gehou met verbasend min stuurtraagheid onder soveel stres.
Terwyl die nuwe JCW toegerus kom met ‘n lang lys van standaardtoerusting en elektroniese hulpstelsels, is daar is ook ‘n lang lys opsionele ektras beskikbaar waarmee jy jou Mini JCW kan verpersoonlik. Teen ‘n prys natuurlik.
Prys: Die 2015 Mini JCW 6-spoed handrat-kasmodel (wat eers gedurende die derde kwartaal vanjaar by handelaars beskikbaar sal wees) kos R418 000, terwyl die 6-spoed outomaties teen R440 000 verhandel. Die 2015 Mini John Cooper Works is toegerus met paprywiele en kom standaard met ‘n vyf jaar/100 000km-diensplan, asook ‘n vyf jaar onbeperkte kilometer padbystanddiens.
Fotos: www.netcarshow.com





















