NAGLIGTE – ‘n nuwe toevoeging tot Afrikaanse musiek
Die groep het in 2000 begin toe Roof en Wynand mekaar op Universiteit ontmoet het.

Word wakker. Staan op. Gaan werk toe.
Word wakker. Staan op. Gaan huis toe.
Die siklus herhaal homself tot vervelens toe. Wat gaan van ons word?
Dit is as gevolg van hierdie worsteling dat NAGLIGTE besluit het om hul vrese en drome aan die wêreld te openbaar.
Die groep bestaan uit drie lede: Jacobus (Roof) Brink (voorsanger, kitaar en klavier), Wynand Jonker (kitaar) en Daniël (Eddie) Brink (dromme).
Die groep het in 2000 begin toe Roof en Wynand mekaar op Universiteit ontmoet het. Albei was aanvanklik skepties oor die ander se musikale vernuf, maar van die eerste optrede was die skrif teen die muur: ‘We’re starting a band!’
Vir meer as ‘n dekade lank is die droom maar soos meeste drome eenkant toe geskuif om stof te vergader tussen IRP5s, trou foto’s en kinder speelgoed. Aan die begin van 2014 het die droom uiteindelik begin momentum kry toe hulle saam met Eddie begin liedjies skryf het. “Ons was so gatvol vir ons werke. Ons wou net iets doen om uit hierdie sieldodende bestaan te kom”, sê Roof. Al drie die lede is voltydse besigheidsmanne.
Sommer gou daarna is die rowwe idees in Wynand se huis in sy ateljee neergelê.
‘n Goeie vriend van die groep, Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties, het voorgestel dat hulle vir Fred den Hartog (ook lid van Die Heuwels Fantasties) betrek om die album te vervaardig. Daarna is ‘n paar van die liedjies ook deur Francois de Klerk vervaardig.
Meer oor die enkelsnit DIT STOP NOU:
“Een van die vervaardigers op die album, Sheep (Francois de Klerk), het vir ons ’n stuk musiek gestuur en gesê ons moet kyk waarmee ons kan opkom. Ons was dadelik mal daaroor en Wynand het vinnig met die melodie en die konsep vir die liedjie vorendag gekom. Ek, Roof en Wynand het toe saam die lirieke begin skryf”, vertel Eddie.
Die liedjie is opgeneem deur Francois de Klerk by Blakk Productions in Potchefstroom en gemeng deur Jürgen von Wechmar van Sunset Recording Studios in Stellenbosch.
Die drie lede se diverse musiek smake, wat strek van melodiese pop tot ‘heavy metal’, het alles bygedra om die epiese, saamsing, alternatiewe klank van die groep te definieër. “Ons het ‘n baie duidelike idee gehad van hoe ons wou klink”, sê Wynand. “Maar, na die eerste paar sessies in die ateljee kon ons agterkom dat ons nog vêr is van hoe ons wil klink en het stelselmatig meer en meer ons eie unieke klank gevind, gebasseer op die breër spektrum van ons individuele invloede”.
Die groep se boodskap aan almal daarbuite: “Ons wil wegbreek uit hierdie doellose bestaan wat huidiglik so baie van ons tyd opneem. Ons wil vir almal sê: Dit maak nie saak wie jy is en wat jou omstandighede is nie, daar is altyd hoop in die donker. Word wakker. Word groot. Staan op.”
