EntertainmentLifestyle

Wie laat die koek rys?

Jack Parow het Saterdag by Jock Pub & Grill in Mbombela, te midde van 'n bietjie koue en reën, gesorg vir groot vermaak met 'n paar kwinkslae en kragwoorde.

Jack Parow het Vrydagaand ‘n kletsrymsessie vir die boeke by Jock Pub & Grill in Mbombela opgedis. Dié kunstenaar draai mos nie doekies om nie, en sensitiewe toeskouers se ore sou behoorlik getuit het van die string kragwoorde wat hy doodluiters gedurende sy vertoning geuiter het. Jack skrik nie vir ‘n “p”-bom of die “f”-woord nie, en hierdie krashede het vanuit sy ikoniese lang pet oor sy tong afgerol.

Nietemin geniet die man met die Pep Stores-broek en afmou-frokkies steeds groot aanhang onder ‘n uiteenlopende groep mense – en sy fans het te midde van ‘n bietjie koue en reën hard partytjie gehou.

Parow deel nou al ‘n ruk lank die verhoog met kitaarspeler, Louwtjie Rothman van SA’s got talent-faam. Rothman is nie net iets vir die oog nie, hy is ook ‘n musikale genie wat hope energie tot Parow se vertonings voeg.

Dié man ken sy pad om die kitaarsnare soos Parow sy pad om ‘n Burger Fair-Dagwood ken – en die solo-gedeeltes wat Parow gereeld aan hom toegestaan het, was beslis ‘n hoogtepunt van die aand. ‘n Parow-show is natuurlik nie kompleet sonder ‘n stage dive nie, en die skare kon ‘n deesdae slanker Parow letterlik op die hande dra na  ‘n waaghalsige duik.

Preutse puriste kan sê wat hulle wil – met tong in sy kies en vol Jägermeister lewer hy skreeusnaakse sosiale kommentaar, wat nie te versmaai is nie. Indien jy die vertoning misgeloop het, gaan maak die jol vol by Emnotweni se kletsrym-extravaganza waar Parow ook in November te sien sal wees.

Hoe weet mens of jy te oud is vir ‘n Parow-show?

Hierdie joernalis het ‘n paar van die jongklomp onderlangs hoor brom dat mense van ‘n sekere portuur glad nie by ‘n Parow-optrede hoort nie, en dit goedgedink om ‘n paar riglyne op te stel vir diegene wat twyfel, naamlik:

• As jy nie tuis is in die middel van ‘n mosh pit nie – bly by die huis. Indien jy dink dat jy rustig vanaf jou kroegtafeltjie iets te sien sal kry, moet jy liefs na ‘n CD by die huis in jou sitkamer gaan luister. (Hieruit volg die aanname dat jy dan ook nie weet van iTunes nie, vandaar die CD-aanbeveling).

• Vir voor die hand liggende redes is dit nie jou scene as jy nog Vernon Koekemoer-jokes (of enige soortgelyke e-posse) forward nie.

• As jy jouself by die show bevind het en meer as twee keer na jou horlosie moes kyk, dan is jy ou nuus. Parow is nooit betyds nie, en as jy nie die paartie kan geniet tot hy opruk nie, gaan drink organiese rooibostee in jou sitkamer. (As jy boonop die tyd moes dophou op ‘n polshorlosie en nie op jou smartphone nie, kan jy maar daai teetjie geniet terwyl jy sommer ‘n kniekombers oor jou koue litte trek).

• As jy nog nie gehoor het van die Brackenfell Boy’s Choir nie (dis ‘n Parow-song, nie ‘n regte koor nie), gaan luister maar eerder na jou album van die Dirty Skirts.

• As jy nie jou shooters kan handle nie, gaan groom jou snor by die huis.  

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button