Onthou jy nog vir BZN? Wen kaartjies na die groep se Nelspruit-vertoning!
Lees meer oor die bekende groep uit die '80's en hul toer deur Suid-Afrika.

BZN gaan ál die treffers by hulle vertonings op die SA-toer sing wat van hulle ‘n huishoudelike naam in Suid-Afrika gemaak het in die tagtigerjare.
So sê Anny Schilder, die vroulike hoofsanger van dié legendariese groep, wat amper veertig jaar gelede oornagsukses behaal het met die liedjie “Mon Amour”.
Wen!
Nelspruitpost.co.za gee drie pryse aan drie gelukkige lesers weg om BZN in Nelspruit te sien:
• 1 x VIP pakket na die vertoning in Nelspruit (2 x kaartjies, “meet & greet” en getekende album)
• 2 x kaartjies + getekende album na die vertoning in Nelspruit
• 2 x kaartjies na die vertoning in Nelspruit
Die kompetisie is ‘n gelukkige trekking en al wat jy moet doen om te wen is jou naam, van, telefoonnommer en e-posadres in die vorm hieronder in te vul. Sluitingsdatum: 19 Oktober 2015.
Meer oor die Nelspruit-konsert hier: BZN legends once again to take South African stages by storm
“Ná ‘n vorige konsert in Suid-Afrika waar ons van ons nuwe materiaal gesing het, was ons Suid-Afrikaanse aanhangers se terugvoer dat hulle ons treffers wil hoor. Wel, ons het geluister en die BZN Greatest Hits Show is presies wat die naam sê, ‘n konsert propvol van ons grootste treffers,” vertel Anny.
BZN op Noot vir Noot
BZN het soveel internasionale treffers in hul loopbaan van amper 40 jaar gehad, dat hulle besluit het om die Suid-Afrikaanse deel van hul wêreldtoer selfs meer spesiaal te maak vir plaaslike aanhangers. Die BZN Greatest Hits Show in Suid-Afrika sal al die BZN-liedjies bevat wat op eie bodem treffers was. Dit sluit in liedjies soos “Yeppa”, “Tonight”, “Wheels on Fire”, “Le Legionnaire”, “Waltzing Maria” en natuurlik “Mon Amour”, BZN se eerste treffer.
“Kan jy glo dat dit volgende jaar (2106) veertig jaar sal wees sedert ‘Mon Amour’ ons kitsroem besorg het?” vra Jan Keizer, wat saam met Anny dit reggekry het om ‘n onbekende band van die dorpie Volendam in Nederland ‘n wêreldwye sukses te maak.
Jan en Anny onthou dit nog soos gister. Die musiekgroep waarvan Jan deel was, het ‘n vroulike sanger gesoek vir die liedjie “Mon Amour”. Hulle het oudisies gedoen en Anny, een van Jan se vriende se sussie, het die werk gekry. “Ons was nie mal oor mekaar in die begin nie, maar ons het besef dat ons stemme fantasties saam werk,” vertel Jan laggend. Deur die jare het dié twee egter ‘n hegte vriendskap gebou en nou, amper 40 jaar later, is hulle onafskeidbaar.
“Mon Amour” is opgeneem en die liedjie is versprei. By die Volendam Karnaval, een van die grootste jaarlikse gebeurtenisse op die dorp, kon ‘n mens die liedjie in elke kroeg en kuierplek hoor. ‘n Bekende radiopersoonlikheid van Radio Veronica (‘n Nederlandse streeksradiostasie) het die karnaval bygewoon, die liedjie gehoor en besluit om dit te speel as een van sy “gunstelinge van die week”. Dit het binne ‘n week van nommer tien af na nommer een gegaan waar dit vir vyf weke bo-aan die trefferlys gebly het.
Dit was die begin van ‘n merkwaardige loopbaan. Meer as vyftig van BZN se liedjies het oor die jare die nommer een-posisie op treffersparades wêreldwyd beklee en die groep het meer as dertig albums vrygestel. Hulle word steeds beskou as die beste Nederlandse groep ooit en niemand kon nog hulle trefferrekord ewenaar nie: hulle het vir 26 jaar agtereenvolgens ‘n treffer gehad op die Nederlandse Top 40, wat een van die grootste trefferparades in Europa is.
Jan en Anny het die Liqui-Fruit-amfiteater in die Paarl onlangs besoek en sê hulle sien uit daarna om by dié “ongelooflike venue” op te tree. Dit sal hulle enigste optrede in die Wes-Kaap wees. Hulle word vergesel deur die BZN-orkes en twee bekende Suid-Afrikaanse sangers en televisie-aanbieders, Nádine en Gerrie Pretorius, sal saamtoer as gaskunstenaars.
Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket. (Pretoria vertoning beskikbaar by iTickets)
SA-toerprogram
• 24 Oktober, Kimberley
• 25 Oktober, Bloemfontein
• 28 Oktober, Port-Elizabeth
• 29 Oktober, Oos-Londen
• 31 Oktober, Paarl
• 1 November, George
• 3 November, Klerksdorp
• 4 November, Pretoria
• 6 November, Nelspruit
• 7 & 8 November, Johannesburg
Vir Anny en Jan is hul opkomende Suid-Afrikaanse toer ’n “viering van die lewe”.
Anny is verlede jaar met borskanker gediagnoseer en hulle moes noodgedwonge hul Suid-Afrikaanse konserte kanselleer.
“Alles verander wanneer ’n mens sulke nuus kry,” vertel Anny. Dit is dan wanneer ’n mens se wil inskop om te lewe. “Ek het daardie dag besluit ek gaan nie toelaat dat dié siekte my onderkry nie. Ek wil voluit lewe, gesond word en weer begin optree.”
Die behandeling was suksesvol en Anny, Jan en die res van die BZN-span het dadelik begin beplan aan ’n wêreldtoer.
Anny en Jan het onlangs week vir ’n blitsbesoek Suid-Afrika toe gekom om die toer, BZN – The Greatest Hits Tour, te bemark. “Ek voel fantasties,” sê sy. “Ek is gesond en ek is baie opgewonde om weer in SA te kan kom optree. Ek is lief vir Suid-Afrika en sy mense en ek wil my lewensvreugde met ons aanhangers hier deel.”
Met trots ingebring deur Stars In SA – https://starsinsa.co.za/


