EntertainmentLifestyle

Dewald Wasserfall lig NHS se dak

Dewald het kultusstatus bereik en dit was Donderdagaand duidelik hoekom.

MBOMBELA – Daar was rockmusiek, dansmusiek en ‘n gillende gehoor wat saam met sanger Dewald Wasserfall die dak gelig het, toe hy Donderdag by Hoërskool Nelspruit opgetree het. Die gehoor kon nie hul opgewondenheid beteuel terwyl dié sangsensasie die treffers ingeryg het nie.

Kliek hier vir foto’s van die aand.

Dewald het kultusstatus bereik en dit was Donderdagaand duidelik hoekom. Met sy stoppelbaard, stywe denimbroek en breë glimlag, was hy beslis iets vir die oog. Hierbenewens het sy verhoogpersoonlikheid en sjarme bewys waarom hy oral waar hy gaan harte wen. Hy het losgetrek met “Hart van stof” en toe die dawerende applous wat daarop gevolg het uiteindelik bedaar, het hy vriendelik gevra: “Hallo Nelspruit, hoe gaan dit met almal?” Honderde meisies het hom met 90-desibel gille van goedkeuring geantwoord. Sy kitaarspeler, Danny Smoke, was net so gewild. Danny se solo’s is so hard toegejuig dat dit die enorme luidsprekers byna uitgedoof het.

“Vergeet wat jy weet van liefde,” “Amsterdam” en “Suikerbos” was van sy bekende liedjies waarmee hy die gehoor vermaak het. Die saal was vol van lojale aanhangers wat sy liedjies woord vir woord saamgesing het. Dewald, wat baie van sy liedjies self geskryf het, het gesê dat dit vir hom ‘n wonderlike ervaring was om voor ‘n gehoor met soveel gees op te tree, waar almal so lekker saamsing. Hy het ook gesê dat hy baie na Innibos uitsien. “Ek geniet dit om jaarliks by die fees op te tree, dis altyd ‘n lekker partytjie.”

Dewald het verder bekoor met ‘n paar akoestiese en country nommertjies. Hy het ook ‘n spesiale boodskap gehad vir jongmense wat soms “uit” voel: “Dit wat jou anders maak, maak jou uniek.” Hy het “Stroom-op en been-af,” “All about me” en “So eensaam soos die son” gesing en almal was deurgaans in vervoering. Hy het die aand afgesluit met “Sewentien” en “Eendag as ons groot is.” Die gehoor het hierdie liedjies só oorverdowend saamgesing, dat Dewald vir ‘n oomblik aangedaan, met ‘n reuseglimlag op sy gesig, voor hom uitgestaar het. Hy het almal bedank omdat hulle die optrede vir hom ‘n plesier gemaak het.

Organiseerder, Kriekie Bekker, was omtrent in haar noppies met haar gr. 8D-klas wat haar bygestaan het met die reëlings en kaartjieverkope. Die aand se winste is aangewend ten bate van die skool se #Nelliefiësta fondsinsamelingsprojek. Sy het Dewald bedank vir die skitterende vertoning wat hy op die planke gebring het. Sy het ook haar dank uitgespreek teenoor almal wat bygedra het tot die aand.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button