Plaaslike talent maak landswye opslae
Jonathan Peyper tree ook hierdie naweek by BosRock op.

MBOMBELA – Op ‘n gesinsvakansie in Mosambiek het Jonathan Peyper se liefde vir musiek vlam gevat. “Ek het daar ‘n strandloper ontmoet wat kitaar gespeel het. Ek het hom bevriend en gevra dat hy my ‘n ding of twee wys,” vertel Peyper. Sedertdien het hy vir homself naam gemaak en word hy hoog in die blues- en rockwêrelde as beide sanger en kitaarspeler gereken.
Peyper is ‘n Laevelder in murg en been. Sy ouers het Mbombela toe getrek toe hy ‘n klein seuntjie was en hy het sy laer- en hoërskoolloopbaan in die stad voltooi.
LEES OOK: WATCH: BosRock bringing old school rock to the Lowveld
In 2009 ontmoet hy vir Dan Patlanksy en tree saam met hom by die destydse Blue Moon op. Volgens hom het hy daardie dag besluit dat hy van blues en rock, waarin Patlansky musiek maak, hou, en dat hy sy eie stempel op hierdie genres sal wil afdruk.
In 2010 het hy na Pretoria verhuis om musiek te studeer en dit is ook waar hy en sy vrou, Rozanne tans woon. Sy debuutalbum is in 2014 uitgereik en volgens hom is hy tans besig met sy tweede, wat deur die immergewilde Patlansky vervaardig word.
Tans is hy voltyds musikant in sy eie reg en speel ook kitaar vir Bok van Blerk en ‘n klomp ander huldeblykgroepe. Hy speel ook by partytjies, troues en jaareindfunksies. “My eerste album het op die Blues Rock Review-webblad verskyn saam met die van groot internasionale kunstenaars en het dieselfde gradering ontvang as Joe Bonamassa s’n.” Dit beskou hy as sy grootste prestasie tot dusver, maar het ook baie planne vir die toekoms.
LEES OOK: Old Joe is ready to BosRock
“Sodra die tweede album uit is, gaan ons ‘n klomp nasionale en internasionale toere reël. Ons beplan ook ‘n derde album vir 2020 wat akoesties sal wees.” Peyper hou beslis die Laeveld se naam hoog in die musiekindustrie. Hy tree hierdie Saterdag by BosRock by Kwanyoni Lodge op. Die fees begin om 12:00. Kaartjies kos tussen R100 en R300, en is by Computicket beskikbaar.
