Videoreeks vir jeugkerk op plaaslike bodem verfilm
'n Klompie jeug-bedienaars van Pretoria het aan 'n groot avontuur by Paardeplaats Nature Retreat op die Longtompas tussen 21 en 23 Februarie deelgeneem.
Die groep het ‘n reeks aanlynkinderkerk-dienste vir Paasfees kom verfilm. Die aanlyndienste is verpak as ‘n realiteitsprogram, die Amazing Grace-reeks, oor ‘n paar jongmense op soek na goud in die bergstroompies en ou mynhope op Paardeplaats. Die storie raak egter baie interessant wanneer hoofkantoor ‘n spioen instuur (gespeel deur Ruben Swart van Lydenburg) om te kyk hoe die klomp stadsjapies in die natuur oorleef. Hulle moes ‘n hele aantal regte gevare, soos spinnekoppe, muskiete, luiperds en vreesaanjaende naggeluide, die hoof bied in hul soeke na die groot skatte. Vir die groep was hierdie Amazing Grace-reeks ‘n belewenis soortgelyk aan die Amazing Race-realiteitsprogram, en het dit uit die mooiste natuurtonele, spanbou, kreatiewe probleemoplossing en ‘n resies teen tyd bestaan. ‘n Paar tienermusikante het die reis meegemaak en kon nie anders as om die Here te loof en prys in die pragtige natuurskoon nie. Hierdie kosbare, spontane oomblikke van lof en aanbidding het gesorg vir die mooiste nuwerwedse musiekvideo’s wat in die lesse ingewerk kon word en kinders van regoor die land sal laat saamsing. Die eienaar van Paardeplaats, Gerda Whitehorn, is ook sommer ingespan as toergids en sy kon baie mooi vir die groep die verskil tussen vals en egte goud uitwys. Die groot, swart Deense hond, Shaka, en sy Jack Russell-boesemvriend, Dobby, het die groep vermaak en saam patrollie geloop wanneer daar in die ruigtes geskiet is. Die draaiboek is geskryf deur Lydenburg se geliefde ds. Antoinette Wilson, en is gemik op laerskoolkinders, tieners en hul gesinne. Een van die doelwitte is om die emosies wat Jesus voor en tydens Paasfees beleef het, vir kinders werklik te maak. Ds. Fredrick Wilson, bygestaan deur Paardeplaats se Brian Whitehorn, het vir die honger avonturiers kosgemaak en saam om die kampvuur gekuier. ‘n Span kundiges van verskeie denominasies, onder andere NG Moreleta, Kerk-Sonder-Mure, Kempton Kruin, Mosaïek, NG Lydenburg-Suid en die Goeie Nuus-fabriek, is ingetrek om die lesse te verwerk tot ‘n aanlynvideoreeks wat vanaf einde Maart gratis beskikbaar by The Great Colab Kids sal wees. Groepe of gemeentes wat by hierdie inisiatief betrokke wil raak of hierdie gratis aanlynvideo’s en -lesse wil bekom, kan Clarissa per e-pos na thegreatcolabkids@gmail.com kontak. Presies waar en wanneer die skat op Paardeplaats gevind is, en of dit vir kos, klere, geld of motors ingeruil kan word, sal kykers maar self moet uitvind deur die reeks te volg.



