102-jarige deel jeugherinneringe
Die argelose vreugde van haar jeug glinster steeds 102 jaar na haar geboorte in die oë van Essie Grobler (née Burger).
Die liewe onskuld.
Zalig, o zalig, een kind nog te zijn.
Nog dink ek aan die dae.
Die dae van ons jeug,
Van bly en blanke onskuld,
Van argelose vreug. – A. G. Visser
Die 1934-matrikulant is sy ‘n volle twee jaar ouer as haar alma mater, Hoërskool Lydenburg.
Sy bly in die Harmoniehof Tehuis vir Bejaardes in Pretoria.
Vir bekendes en vreemdes wil sy nie as “mevrou” aangespreek word nie, maar “tannie Essie”, al klink dit hóé informeel.
Sy glimlag met ‘n oop gesig en verwelkom elke kamera, of in die moderne era elke selfoon wat graag ‘n kiekie van haar wil neem.
Op tweejarige ouderdom het sy as enigste kind en selferkende bedorwe brokkie saam met haar ouers vanaf Malmesbury verhuis.

‘n Groot bederf vir haar was om saam met haar ma en pa vakansieoorde soos Badplaas te besoek, en daar kon sy met maatjies speel.
Dit was altyd die skrywer van die artikel se plan om self na Pretoria te reis om ‘n onderhoud met tannie Essie te voer. Weens die pandemie, was besoeke aan die bejaardes egter verhoed.
Hester Language, Harmoniehof se dienstebestuurder, was só vindingryk om ‘n paar vrae aan tannie Essie te stel en dit op te neem. Language het aan die Hoërskool Lydenburg in 1970 gematrikuleer.

Hester Language (HL): Was Tannie in die koshuis of het julle op die dorp gebly?
Tannie Essie (TE): Ek het op die hoek van Kerk- en De Beerstrate gebly. Maar die kinders van Monica Koshuis, hoek van Viljoen- en De Beerstrate, was almal my maats.
My pa was ‘n onderwyser aan die Laerskool Lydenburg en het ook deeltyds geboer. Ek hoor die Standard Bank is nou daar en dat die ou koshuis gesloop is.
HL: Het julle soms kattekwaad aangevang?
TE: Ons klomp meisies het een aand my eie pappa se vrugte gesteel en ek het gehelp om dit in kussingslope te sit. Die koskuiskinders het by die huis aan my venster kom klop en ek het uitgeglip. Die pruime en vroeë perskes was ryp. Ons het so lekker gelag terwyl ons in ons japonne in die vrugteboorde doenig was. Die volgende dag het pappa gevra: “Essie, daardie spore om die vrugtebome, weet jy iets daarvan?” Hy het net sy oog geknip en nie verder uitgevra nie.
HL: Was Tannie ‘n skrander leerling?
TE: Wiskunde het ek gehaat. Ek is taalkundig aangelê. Gee my Afrikaans, Engels en Duits. Moenie vir my ’n antwoord vra vir a kwadraat plus b nie, dan wil ek stuipe vang. En toe word my man ’n wiskundedosent by Tukkies. Hy kon nooit verstaan hoekom ek nie van wiskunde hou nie. Ons was 46 jaar getroud.
HL: Wat onthou Tannie van Tannie se matriekjaar?
TE: Ek onthou al die onderwysers se name. Daar was altesaam agt. Ek het veral Duits geniet by me. Petrick en die hoof was mnr. Keet.

HL: Watter van die wêreldgebeure of ontwikkelinge van daardie tyd onthou Tannie?
TE: Die skool het nie ‘n saal gehad nie, ons het altyd in die binnehof (die skool se vierkant) bymekaar gekom. Ek was twee jaar oud, toe is die fondamente van die skool gelê. Ek weet daar niks van nie, maar mamma en pappa het my vertel.
In September 1934 het ek en Lindie Moolman in die binnehof gestaan, en ek dink twee of drie seuns. ’n Kind het ons kom vertel daar is ‘n hele klomp in die seuns- en meisieskoshuis wat Duitse masels het.
Dié wat gesond was, se ouers moes hulle kom haal. Met die maseluitbreek het die hoof gesê die skool moet maar eers toe. Ek het masels opgedoen, maar dit binne-toe gekry en het nie uitgeslaan nie.
My mammie het laat wyn koop en dit warm gemaak. Om warm wyn te drink was ‘n boereraat. Dit het die knoppies van die masels laat uitslaan. Dit het soos puisies gelyk en my koors het gebreek.

HL: Onthou Tannie iets van die toestand in die land, soos tydens die Groot Depressie? Was dit baie arm jare?
TE: Die mense het oor die algemeen baie swaar gekry. Elektriese ligte het uitgekom toe ek vyf was. Toe ek 11 jaar oud was, het ons vir die eerste keer ‘n radio in die huis gehad. Ons het gehardloop van kamer tot kamer en die ligte aangeskakel vir die pret.
HL: Wat wil Tannie sommer in die algemeen nog graag deel?
TE: Al my Lydenburg-jare was regdeur lekker. Ons was 36 kinders in die matriekklas. Ek was van gr. 1 tot matriek in Lydenburg. Daarna is ek na die Universiteit van Pretoria (Tukkies), en het ek my tersiêre onderrig aan die Heidelberg Onderwyskollege voltooi. My vier kleindogters is vir my so kosbaar. Twee is aptekers, een ’n advokaat en die ander ‘n medisyneverteenwoordiger. Haar seun Paul Grobler bly ook in die ouetehuis. En haar dogter, Christa Peach en haar man, bly op Bronkhorstspruit.
In 2020 is daar ‘n literêre kompetisie in die ouetehuis gehou. Inwoners kon ‘n stukkie prosa of ‘n gedig skryf oor die Covid-19-pandemie. Tannie Essie se stukkie het gewen.
Dit sal ook nie anders wees vir die leerling wat reeds in 1934 gesê het tale is haar kos nie.
Lydenburg salueer hierdie besonderse mens.
- Sluit aan by Hoërskool Lydenburg se Facebook-groep waarop al die eeufeesnuus en -foto’s gedeel word, na afloop van die fees wat van 1 tot 3 Oktober plaasgevind het.
