Nuwe hoof van Valke berei voor vir talle uitdagings
Die Mpumalanga Valke het 'n nuwe hoof wat vasbeslote is om probleme in dié provinsie uit te klaar.
Werk slimmer, nie harder nie.
Dit is die filosofie wat genl.maj. Nico Gerber (57) nog reg deur sy 32 jaar as polisiebeampte in Bloemfontein toegepas het. Gerber is pas as die nuwe provinsiale hoof van die Mpumalanga Valke aangestel.
Toe hy die skoolbanke as matrikulant by Hoërskool Gerrit Maritz in Pietermaritzburg in 1983 verlaat het, het hy onmiddellik by die polisie aangesluit.
LEES OOK: Bokser se boesemvriend tree in die bres ná sy dood
In 1989, tot sy latere spyt, koop hy sy ontslag en werk hy in ‘n bank terwyl hy BCom studeer. “Maar ek het die adrenalien en opwinding van die polisie gemis, en in 1991 het ek weer aangesluit, dié keer as ‘n adjudantoffisier in Bloemfontein, waar ek voertuigmisdaad en ander sensitiewe ondersoeke gedoen het,” vertel hy.
Hy is later na die eenheid vir georganiseerde misdaad oorgeplaas, waar hy nou betrokke was by die ondersoek van georganiseerde sindikaatbedrog en projekgedrewe ondersoeke.
Vir ‘n kort tydperk van 2007 tot 2009 was hy as ‘n senior ondersoeker by die destydse Skerpioene werksaam. In 2009 word hy ‘n groepsbevelvoerder by georganiseerde misdaad totdat hy in 2018 tot brigadier bevorder word en as provinsiale hoof vir onder meer ernstige misdaad, korrupsie en korrupsie in die regering verantwoordelik was. Hy praat nie graag oor sy vele suksesse nie, maar laat glip tog dat hy ‘n baie suksesvolle projek hanteer het om zama zamas vas te pen wat onder hulle medeboewe moord gepleeg het en die lyke in ou mynskagte afgegooi het.
LEES OOK: Hoërskool Nelspruit hou interhuis
Later was hy betrokke by spesiale projekte waar daar meer op vlakke drie, vier en vyf van sindikate gefokus is (die vlakke waarin die opdraggewers en hoofde van sindikate beweeg). Hy was ook nou betrokke in die ondersoek van bedrogsake en korrupsie teen amptenare van die Vrystaatse provinsiale regering, waarin onder ander die afgedankte ANC-sekretarisgeneraal, Ace Magashule, na bewering betrokke is.
“Hier is baie werk in Mpumalanga, maar ek sien uit na die uitdaging. Ek wil graag sorg dat my eenheid in alle erns op bedrog in Eskom, die steenkoolbedryf, dieseldiefstal en regerings- en kommersiële korrupsie ‘n impak maak.”
Om dit te bereik, is dit vir Gerber belangrik om ‘n stabiele omgewing en werksplek vir sy lede te skep, en om te sorg almal moet die regte en positiewe gesindheid teenoor die werk wat hulle doen, kweek. “En ek moet deur my optrede wys hoe dit gedoen met word. My filosofie was nog altyd om voor te loop en ‘n voorbeeld te stel.” Gerber, wat ook ‘n BTech-graad in forensiese ondersoeke verwerf het, is met Virna getroud. Hulle het drie kinders: Ruan, Candice-Michelle en Tayla.
