Man wat met panga aangeval is, stabiel na operasie
Gert Joubert (66), wat gister ’n ure lange operasie in die Witbank Hospitaal ondergaan het om bloeding op die brein te verlig na ’n panga-aanval Maandagaand, se toestand is stabiel.

Hy is na die operasie in die intensiewe eenheid opgeneem waar hy tans aansterk. ’n Breinskandering het gewys dat hy ook skedelbreuk het.
Mnr. Joubert en sy suster, Susan (Sannie) Luus (80) is Maandag omstreeks 20:00 op die Grootrietvlei-plaas (Stoffberg-omgewing) deur mense, wat sowat ’n maand gelede op die plaas begin werk het, aangeval.
Lees ook: Bejaardes met pangas aangeval: ‘Dit was ’n bloedbad!’
Hulle het kom aanklop en gesê dat hulle brandstof benodig vir kettingsae, waarop hy uitgegaan het omdat hy hulle ken.
Die aanvallers het hom met ’n panga op die kop geslaan en sy kop oopgekloof.
In die daaropvolgende gebeure is hy by die huis ingesleep, waar hulle me. Luus ook aangeval het deur haar bord, waaruit sy besig was om te eet, op haar kop te breek.
Lees ook: Aanvallers was ‘vriendelike gesinnetjie met pasgebore baba’
Daarna is sy met die platkant van die pangas op die arms geslaan, terwyl hulle geld geëis het.
Die rowers het weggekom het haar grys Opel Corsa, ’n televisiestel, die twee bejaardes se selfone, sowat R1 000 kontant (wat in hul beursies was) en twee kettingsae.
Me. Luus se dogter Gerda, het vanoggend gesê dat dit beter gaan met haar moeder en dat sy glo dat sy binnekort ontslaan sal word.
Sy het gesê dat hulle dankbaar is vir die goeie sorg wat haar oom tans in die intensiewe eenheid na die operasie ontvang.
•’n Grootskaalse soektog na die aanvallers is deur die polisie van stapel gestuur en hulle hou die familie die hele tyd op hoogte van die ondersoek.
Lees ook: Noodoperasie vir bloeding op brein na panga aanval
