Bolhuis se beste speurders help om na Willem te soek
Baasspeurder Mike Bolhuis en sy span is steeds besig om alle leidrade op te volg na Willem Kruger (29) se verdwyning.
In ’n onderhoud met Bolhuis, het hy gesê dat hy sy beste taakspan, spesialis ondersoekers, Phil Vermeulen en Jacques Visser, tans gebruik om te help in die ondersoek.
“Daar is nog geen nuwe verwikkelinge nie. Ons het leidrade en ons het informasie, maar ek wil nie meer sê nie.”
Hy het melding gemaak dat, buiten sy span, daar ook ander privaat ondersoekers ingevlieg het na die toneel om te help met die ondersoek.

Mnr. Bolhuis sê daar is meer as een moontlikheid waarna hulle kyk oor wat met Willem kon gebeur het.
Die een is dat hy gekaap of aangeval is voordat hy by die lodge uit is.
Die sterkste moontlikheid is dat hy hom misgis het by ’n bruggie by die Henbase Lodge en sy bakkie in die Vaalrivier beland het. Hy het genoem dat daar ’n derde moontlikheid is, maar het nie uitgebrei daaroor nie.
Lees ook: Helikopters en bote soek sedert ligdag na Willem
Mnr. Bolhuis sê die soektog na enige teken van Willem se bakkie is baie moeilik omdat die rivier sterk vloei en ook weens die onderstrominge, al is sy bakkie groot.
Mnr. Bolhuis het ook lugfoto’s verskaf om aan te dui hoe erg die rivier in vloed is.

Hy sê ’n groot aantal mense, soos die polisie, is betrek om te help soek.
“Hierdie is nie ’n maklike storie nie, maar ons is ook dankbaar vir al die vrywilligers wat opgedaag het om te help.”
Dit is vir hom belangrik dat elke persoon op die toneel se hoofdoel moet wees om Willem op te spoor en dat almal tot op die einde moet saamwerk.
“Daarom sê ons vir elke persoon dankie wat help.”
Lees ook: R50 000 beloning vir inligting om Willem te vind
Hy noem dat hulle steeds alle inligting en leidrade navolg. “Ons kyk steeds na CCTV- en padkameras in alle rigtings. Ons druk ook swaar op enige inligting wat die publiek kan verskaf. Iemand kan dalk laer af in die rivier iets optel, soos ’n selfoon of enigiets anders, en dan moet ons daarvan in kennis gestel word.”
Mnr. Bolhuis sê hy wil ook baie dankie sê vir elke persoon wat bid.
“Jul gebede dra ons. Ons dra vir Willem aan die Here op en ons vra dat Hy ons barmhartig sal wees om Willem te vind. Bid asseblief saam met ons dat ons hom sal vind.”
•Inligting kan deurgegee word aan Phil by 082 604 4598 of Jacques by 067 946 0812.
•Willem se familie bied ’n R50 000 beloning aan vir inligting wat daartoe sal lei dat hy gevind word.
•Die Vaalrivier het Maandag die sterkste gevloei en die soekspanne moes op die walle kort-kort hoër op skuif toe die rivier sy walle oorstroom het. Alhoewel die rivier al effens begin sak het, is daar inwoners in die omgewing wat voorspel dat dit tussen twee en vier dae sal neem voordat daar ’n werklike afplatting in die sterk vloedwater sal wees.
