News

Sindikaat, wat hulself as polisiemanne voordoen en mans afdreig, slaan weer toe

'n Sindikaat wat hulle voordoen as polisiemanne en dan geld uit slagoffers swendel om sake kamtig "te laat verdwyn" is alweer bedrywig.

 

‘n Jong (wat verkies om anoniem te bly) het hierdie week by die Middelburg Observer se kantore self aangekom om mense te waarsku “dat hulle baie oortuigend is!”

Hy vertel dat dit die tweede keer is wat die swendelaars op hierdie manier op hom toegeslaan het.

“Die vorige keer het ek so groot geskrik, dat ek aanvanklik R300 betaal het. Nadat hulle egter skielik daarna R1 500 gesoek het en my aanmekaar gepla het, het ek besef dit is beslis nie die polisie nie en hulle geblok. Ek moes destyds die geld oorbetaal met E-wallet.”

Hy glo hulle het sy kontakbesonderhede gekry op Facebook, aangesien hy op ‘n stadium na tweedehandse artikels gesoek het en sy telefoonnommer daarby gesit het.

Volgens hom was die swendelaars die vorige keer en nou ook hierdie week baie oortuigend, want in die agtergrond kon ‘n mens die geluid van polisieradio’s hoor. Die vermoede bestaan dat ‘n opname in die agtergrond gespeel word, om die slagoffer te ontsenu.

Hy meld dat ‘n Engelse man hom Woensdag gebel het en gesê het hy is kaptein Aphane van die Witbank Polisiestasie.

Die jong man het vir hom verduidelik hy kan hom nie mooi verstaan nie, waarop daar minute later ‘n Afrikaanse man hom gebel het.

Daar is vir hom vertel dat ‘n prostituut in eMalahleni gearresteer is vir prostitusie en dat daar vervalste geld by haar gekry is.

“Die persoon het gesê, volgens die prostituut, het sy vir my gunsies gedoen Dinsdag tussen 12:00 en 13:00 en dat ek haar met die vervalste geld betaal het.”

Die “polisieman” het vir hom gesê dat hulle hom gaan arresteer die oomblik as hy Middelburg Polisiestasie toe gaan om navraag te doen.

“Hy het my direk op my naam genoem en gevra of ek van Middelburg is.”

Hy het vir hulle gesê hulle het die verkeerde persoon beet, want hy het Dinsdag in daardie tyd gewerk.

“Ek vat nie eers etensuur nie en boonop het ek ook nie ‘n kar nie,” lag hy.

Die oomblik toe hy vra vir ‘n saaknommer, het die “polisieman” uiters aggressief geraak en vir sy e-pos adres gevra dat hy die saaknommer kan stuur.

“Hy wou nie die saaknommer vir my SMS nie.”

Wat hom ‘n bietjie senuweeagtig gemaak het, is die feit dat die persoon gedreig het dat sou hy gearresteer word, hy gaan sukkel om sy onskuld te bewys.

Hy het vir ‘n vriendin, wat as burgerlike vir die polisie werk, asook die joernalis gevra wat hom te doen staan.

Albei het vir hom gesê om polisiestasie toe te gaan en dit aan te meld.

  • Die provinsiale mediakantoor, by monde van kol. Donald Mdhluli, het gesê dat geen polisielid geld mag vra van die publiek nie. Hy het gemeld dit is swendelaars wat die polisie se naam misbruik om mense uit geld uit te kul.
  • Dit is die tweede geval binne ‘n week waar booswigte hul voorgedoen het as polisielede om geld uit mense te kul.

Mnr. Tony Peyper se kleinseun se motorfiets is gesteel en het ‘n “polisieman” hom gebel en gesê hy sal die motorfiets van Hammanskraal af vir hulle bring, want hulle het die motorfiets gevind.

Daar is vir hom gesê as hy R2 000 betaal “vir brandstofkostes” sal hulle die motorfiets vir hom bring. Gelukkig het hy besef dit is swendelaars.

  • Daar is al ‘n paar keer berig oor swendelaars wat hulle voordoen as polisielede en dan niksvermoedende mans bel.

In baie gevalle is dit kwansuis “verkragtingsake” wat hulle “kan laat verdwyn” as die persoon enigiets van R2 000 tot soms R10 000 en meer laat betaal.

Privaat ondersoeker, Anthony Boucher (SA Investigations) het onlangs gesê dat hy sake ondersoek waar van sy kliënte tot R18 000 betaal het om ‘n ene “kaptein John Smith” af te skud.

Dit is egter nie net een persoon wat sy geluk beproef om mense af te dreig nie. Daar is na stemboodskappe geluister wat een van die swendelaars vir ‘n slagoffer gestuur het, en klink dit nie soos die man wat hom voorgedoen het as “John Smith” vroeër hierdie jaar nie.

 

 

 

 

 
Back to top button