News

Kaal man dood in rehab gekry – bewerings van kettings en sambokke toe nie so vergesog

’n Man is dood en drie ‘sekuriteitsbeamptes’ is gearresteer by pastoor Patrick Simelane se City of Refuge se ‘rehabilitasiesentrum’ op ’n plaas buite eMalahleni.

Verslaafdes se bewerings dat hulle met kettings vasgemaak en met sambokke geslaan is as hulle probeer ontsnap het, blyk waar te wees nadat die naakte oorskot van ’n man by die City of Refuge se ‘rehabilitasiesentrum’ gekry is.

Lukie Zulu, Sandile Masimula en Sbusiso Mavuso het in die Witbank Landdroshof verskyn na aanleiding van die gebeure waar een van die verslaafdes in die sentrum, Sfiso Mcigo, oorlede is.

Dié foto van Lukie Zulu het past. Simelane verlede jaar aan die Observer verskaf.

Sentrum skuif elke keer na bewerings

Pastoor Patrick Simelane is in beheer van dié sentrum waaroor die Observer al talle kere berig het. Hulle was eers by Somaphepha Village, het vandaar geskuif na Botshabelo, en is nou die laaste ruk op die plaas by Siyanqoba.

In Desember 2023 het past. Simelane hewig gereageer nadat ons ’n berig geskryf het oor ’n beweerde ‘martelhuis’ op ’n plaas op die Stoffbergpad. Daar is duidelik in die berig gesê dat dit nie die destydse Oorwinnaars Halfweghuis, wat ook op dié pad geleë was, is nie.

Hy het gesê dat daar direk gesinspeel is dat dit hulle rehabilitasiesentrum naby Somaphepha is.

’n Verslaafde (wat uit vrees anoniem gebly het), wou nie die rehabilitasiesentrum se naam noem nie, maar uit die gesprek het dit duidelik geword dat dit in ’n huis op ’n plaas in die Somaphepha omgewing was.

Hyself het ‘ontsnap’ en vreesbevange gesê dat “verslaafdes in die huis met kettings vasgemaak en met sambokke geslaan word as hulle ontsnap”. Hy het beweer dat verslaafdes ‘soos slawe behandel word’.

Terwyl hy by die sentrum was, het hy gesien dat daar mense in kamers met kettings vasgemaak is.

Verslaafdes aan mekaar vasgemaak met kettings

Volgens sy beskrywing was die verslaafdes se voete met kettings aan mekaar vasgemaak. Op sy vraag hoekom hulle vasgemaak is, het hulle vir hom gesê dit is omdat hulle probeer ontsnap het. Daar was nie toiletgeriewe nie en hulle moes ’n emmer deel.

Hy het ook beweer dat die persone wat probeer ontsnap met sambokke en tekkies geslaan is deur van die ander verslaafdes in die huis.

Lees ook: Verslaafdes ‘met sambokke geslaan en met kettings vasgemaak’

Bewerings is ‘waar!’

Pas nadat die genoemde berig op die webtuiste verskyn het, het die boodskappe begin instroom en is gesê dat ‘dit waar is.’

E-posse is ontvang met boodskappe wat sê dat die verslaafde ‘die waarheid praat’ en die presiese ligging is ook gestuur. Mense wat skenkings wou maak aan die sentrum het gesien hoe ’n man by die huis uitkom “met sy voete vasgemaak aan ’n wielrim (velling) met ’n ketting wat hy rondgedra het!”

Lees ook: Daar is ’n ‘martelhuis’ vir verslaafdes

Twee dae later het ’n paartjie opgedaag om al die bewerings van kettings en sambokke te bevestig. Hulle het ook beweer dat die pastoor nie die hele tyd daar is nie en dat ‘die plek gerun word met dwelmverslaafdes’. Die vrou het verder gesê dat hy ‘eintlik ’n klomp kriminele huisves!’

Volgens haar ‘het ’n man wat homself ’n pastoor noem, twee van die ouens met plastiekstoeke en ook van die mense met sambokke geslaan’’.

Sy het gesê dat sy en haar man baie bang was toe hulle omsingel is deur agt mans, en dat sy gedwing is om kos te maak.

Man gewurg


Die vrou het beweer dat ’n ouer man ook gedreig is, ‘dat as hy sy mond oopmaak dat hulle hom sal doodmaak. Hulle het hom gechoke totdat hy flou geword het, omdat hy saam met ons wou loop die volgende dag’.

Lees ook: Paartjie beweer hulle was ook by ‘martelhuis’

‘Negatiewe publisiteit’ laat hul skuif na Botshabelo

 

In Maart verlede jaar berig ons dat die rehabilitasiesentrum geskuif het na Botshabelo.

Pastoor Simelane en van die verslaafdes, wat hy beweer het ‘skoon is’ het saam met hom gekom en gesê hulle moes skuif vanaf Somaphepha oor al die ‘negatiewe publisiteit.’

Hy het destyds vies gesê dat baie van sy verslaafdes se families hulle kom haal het, na al die bewerings wat gemaak is.

Die bewerings dat daar geen behoorlike toiletgeriewe was of dat mense met kettings vasgemaak of met sambokke geslaan is, is ook heftig ontken.

Lees ook: Rehab centre now at Botshabelo

Op daardie tydstip 30 verslaafdes

’n Dag later berig ons op ons webtuiste dat daar weer 30 verslaafdes is by die City of Refuge se rehabilitasiesentrum.

Past. Simelane het foto’s gestuur van die verslaafdes wat klaarblyklik ‘skoon’ is in die sentrum, wat gehuisves is in die reuse ou pastorie, naby die Botshabelo Kerk. Al die foto’s wat geneem is van die verslaafdes, is ook in die kerk geneem.

Planne vir ouetehuis én kinderhuis

Hy het vertel van hul planne ‘om bejaardes van die strate af te haal en in ’n huis in Botshabelo te sit’.

Daar was ook planne vir ’n skool, kinderhuis en koshuis. Die beplande skool sou die SP Simelane-skool genoem word, en die kinderhuis sou die Magutshwa-kinderhuis heet.

Hulle het ook video’s gestuur waar die verslaafdes besig is om in en om die pastorie skoon te maak.

Lees ook: Meet the addicts in recovery at City of Refuge

Die Observer het die gemeenskap se kommer verwoord oor verslaafdes se teenwoordigheid op dié erfenisterrein.

Lees ook: Heilige grond onteer

Was daar dalk wel ’n lyk?

In Februarie verlede jaar berig die Observer dat ’n paar jong mans, wat Botshabelo een laatmiddag besoek het, ’n lyk in ’n huis naby die Botshabelo Kerk gekry het.

Hulle het beweer dat hulle ’n vrot reuk gekry het en ondersoek gaan instel het, waarop hulle ’n lyk, ‘met wurms op hom’ in ’n agterste kamer gekry het. Die mans was te bang om die polisie te laat weet, want hulle het gevrees dat die polisie sal dink hulle het iets daarmee te doen.

Een van die mans het gebieg by ’n vriend, wat sy ouers in kennis gestel het. Hulle het dadelik die Observer gekontak en daarvan vertel en het ons die polisie verwittig. Met die polisie se aankoms was daar egter geen lyk nie en is dit afgemaak ‘as kwajongens wat stories opgemaak het.’

• Daar is van gister af talle kere geskakel na beide past. Simelane se selfoonnommers vir kommentaar, maar sy selfone is af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button