News

Kriminele sak op dorp toe, ruk kabels uit en steel voor die voet

Inwoners is keelvol vir misdadigers wat net voor die voet hekke oopbreek en vat wat hulle wil!.

Kriminele het laasnag by verskeie huise en komplekse reg deur die dorp toegeslaan waar daar met koevoete hekke van spore afgelig, kabels uitgeruk en solarligte gesteel is.

Juanita Groenewald, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum, het bevestig dat daar ’n geweldige toename in kabel-, hekmotorbattery- en solarligte tans is.

Die boewe rig groot skade aan om by die hekmotorbatterye uit te kom.

Verlede week was ’n gedeelte van Gholfsig byna 24 uur sonder krag nadat boewe die mini-substasie se kabels uitgeruk het. Die booswigte het eiendomsagentskap-bordjies rondom hulle gepak, sodat verbygangers nie kon sien waar kabels uitgeruk is nie.

Lees ook: Residents without power after vandalism on mini sub in Gholfsig

In Dennesig het ’n paar inwoners van Leyds- en Spioenkopstraat vanoggend laat weet dat hul hekmotors erge skade opgedoen het toe ook hul hekke van die spore afgehaal is vir die hekmotorbatterye. By ’n huis in Kanonlaan is koperkabels gesteel. Gistermiddag is ’n sitkamervenster in Leydsstraat stukkend gegooi toe kwaaddoeners ’n klip geslinger het na blaffende honde.

‘n Venster is stukkend gegooi toe kwaaddoeners honde wat geblaf het, wou stilmaak.

Roucha Hattingh, die bestuursagent van verskillende woonstel- en meenthuiskomplekse in die dorp, het ook bevestig dat daar geweldig by komplekse toegeslaan word vir kabels, hekmotorbatterye en solarligte.

“Hulle breek nie in by die woonstelle en meenthuise nie, maar steel die solarligte en hekmotorbatterye. Hulle rig geweldig skade aan! Ons maak die solarligpale ook langer as ons dit vervang!”

Laasnag is daar toegeslaan by Ewalthof meenthuise en Raanin woonstelle, maar sy sê dat Burgerspark en Palm Gardens ook al deurgeloop het.

“Hulle breek die hokke wat om die hekmotors gebou word, eenvoudig net oop!”

Gister het ’n huishulp se vinnige optrede daartoe gelei dat artikels wat gesteel is by ’n huis in Gilfillanstraat, deur Titon Sekuriteit teruggekry is. Die dief het egter weggekom.

Lees ook: Dief steel strykysters, waaier, skoonmaakmiddels

In die vroeë oggendure is daar ook twee fietse gesteel in Gholfsig. Die diewe het die motorhuisdeur oopforseer om by die fietse uit te kom.

Lees ook: Twee fietse in Gholfsig gesteel

Johan Oberholzer (Operasionele bestuurder, Mid Alarms) het verlede week inwoners in die Middelburg Observer gewaarsku dat misdaad skerp besig is om toe te neem. Hy het ook vertel dat ’n informant vir hulle gesê het dat ’n motorfietsindikaat van Johannesburg af daarop roem dat hulle al 50 motorfietse deur die jare in ons dorp gesteel het en op die uitkyk is waar hulle nóg motorfietse kan steel.

Lees ook: Sindikaat het al meer as 50 motorfietse in Middelburg gesteel!

  • Daar word verneem dat daar Dinsdag in die vroeë oggendure ’n inbraak by ’n huis was in Aerorand terwyl die gesin geslaap het.
  • Die Middelburg Polisie het bogenoemde gevalle bevestig en ook gemeld dat veral inbrake by besighede skerp toegeneem het. ‘n Vergadering word beplan met sakelui om die kwessie te bespreek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button