‘As jy deur die bloed van ’n plaasmoord-slagoffer geloop het, verander jou lewe’
Verskeie organisasies werk saam om statistieke van plaasaanvale met 'n sentrale databasis saam te stel en een van hulle is 'n oudpolisieman wat meer daaroor vertel.
Die dag toe hy deur die bloed van ‘n slagoffer van ‘n plaasaanval gestap het, het Niels Nilsson se lewe verander.
Dit was die bloed van een van die 2 295 slagoffers wat tussen 1990 en 2024 in 6 504 plaasaanvalle vermoor is.
“Dit doen iets aan jou,” vertel dié oudpolisieman.
Bogenoemde skoksyfers is net wat die TLU SA tussen 1990 en 2024 bymekaar gemaak het.
Almal ken die wreedheid van plaasaanvalle waar boere en hul gesinne nie net beseer en uitgemoor word nie, maar hul families ook die res van hul lewens verpletter is deur die wreedheid daarvan.
Die Witkruismonument met sy honderde kruise is ‘n tasbare teken van die hartseer wat al vir jare in ons land afspeel.
Statistieke word deurentyd opgedateer
Niels is een van talle groepe in ons land wat statistieke bymekaar om te verseker dat ons land se belangrikste voedselprodusente nie uitsterf nie
Hy is ‘n onafhanklike navorser vir Landelike Veiligheid SA
“Van Januarie tot Oktober 2025 het ons statistiekgroep 142 aanvalle op plase en landboukleinhoewe aangeteken waarvan 16 moorde was. Die statistiek word heeltyd aangepas soos inligting bygewerk word,” vertel hy in ‘n onderhoud.
Net in Oktober alleen was daar 21 aanvalle en daar is een persoon vermoor.

Plaaslike statistieke
Vyf dae later is me. Miemie Maritz (64) op ’n buurplaas met ’n windbuks in die gesig en in die agterkop geskiet.Op 1 September is me. Wilma Maartens (64), ’n bekende onderwyseres van Laerskool Roossenekal op hul plaas Gelukspoort net buite Roossenekal aangeval waartydens die booswigte gedreig het om haar dood te skiet.
Wil soveel as moontlik inligting inwin
Niels sê dit is sy passie om regdeur die land soveel as moontlik inligting in te win. Dit het al begin met sy 20 jaar loopbaan in die polisie, waar hy saam met Landelike Veiligheid gewerk in die Wes-Kaap. “Toe die kommando’s uitfaseer het, het ons die onderskeie rolspelers bymekaar gebring en ‘n geïntegreerde Landelike Veiligheidplan vir die Wes-Kaap saamgestel.”
Hy onthou hoe daardie tyd se Provinsiale Kommissaris, Kommissaris Petros Mzwandile dit ondersteun het en voertuie en toerusting vir elke landelike polisiestasie uitgereik het. “Elke landelike polisiestasie moes ‘n polisiebeampte aanwys om na landelike veiligheid om te sien en die plan te implementeer. Dit het impak gemaak op misdaad op plase en plaasaanvalle is drasties verminder.”
Niels was ook deel van die proses om die Nasionale Landelike Veiligheid Strategie saam te stel in 2007/08. “Ek beywer my nogsteeds om toe te sien dat die strategie wat al ‘n paar keer al aangepas is, wel geïmplementeer word en die werk voort te sit waarvan ek deel was.”
Landelike gebiede is meer kwesbaar
Hy sê die rede waarom hulle nie ander statistieke in dorpe en stede hanteer nie, is omdat mense in die landelike gebiede baie meer kwesbaar is. “In die stad of dorpe ry die polisie, ander wetstoepassers en sekuriteit met voertuie patrollies en is sigbaar, waar die landelike gemeenskap hulle bykans glad nie sien nie.”
Hy noem dat as daar ‘n insident in die dorp of stad gebeur, kan die bure dit hoor en alarm maak en is die reaksiegroepe binne minute daar. “Maar as dit op ‘n plaas gebeur is daar nie bure wat hoor nie. Plaaswerkers word soms betrek by die aanvalle en kan nie reageer nie. Dit neem die reaksiespanne baie langer om by ‘n plaas uit te kom en meestal is dit buurplase wat reageer en is die bure nie noodwendig opgelei nie.”
Niels is nie onsimpatiek oor aanvalle wat in dorpe of stede gebeur nie, “maar as ‘n besigheid in die stad of dorp aangeval en iemand vermoor word, gaan die besigheid die volgende dag aan met die besigheid. Dit is nie die geval met ‘n plaasmoord nie. Bedrywighede op ‘n plaas word totaal ontwrig. Dit neem tussen vyf tot agt jaar vir so ‘n plaas om tot volle produksie te herstel.”
Gevallestudies
Hy is juis nou besig met gevallestudies oor wat van plase en van families word na ‘n plaasmoord. “Uit die vier reaksies wat ek sover terug ontvang het, is al vier die plase of plaasbesigheid verkoop en het die families weggetrek na ‘n veiliger omgewing.”
Niels is lid van ‘n nie-winsgewende maatskappy en bewusmakingsgroep genaamd, ‘Stop Attacks and Farm Murders’. Hy verteenwoordig die groep op die Nasionale Landelike Veiligheid Prioriteitskomitee. “Ons skakel met verskeie ander bewusmakingsgroepe, veiligheidsinstansies en landbou-rolspelers.”
Organisasies werk saam
Verder het hy ‘n dinkskrum gereël met verskeie organisasies wat rekord hou van plaasaanvalle om te reël dat hulle inligting uitruil sodat die inligting en statistieke ooreenstem en is die groep ‘Landelike Veiligheid Statistiekgroep’ saamgestel.
Daar is ook ‘n beroep op die polisie gedoen om hulle inligting te deel en te koördineer. Daarna is die ‘Nasionale Eksterne Insidente Vergelyking Komitee’ in die lewe geroep. Die groep bestaan uit sommige lede van die Nasionale Landelike Veiligheid Prioriteitskomitee. Hulle is nog besig om reëls en riglyne neer te lê.
Niels self het sedert 2019 rekord gehou, maar weens ‘n tegnologiese probleem alles verloor en moes weer van voor af begin. Hulle is egter ‘n paar databasissamestellers wat nou saamwerk en word die gesamentlike inligting gebruik om ontledings te doen. Hul data kry hulle vanaf die media, sosiale mediaplasings en individue wat dit rapporteer.
Hy het die lys van organisasies gegee wat databasisse hou van plaasaanvalle:
• TLU SA hou ‘n databasis wat terugdateer tot 1990.
• Afriforum hou al ‘n hele aantal jare hulle databasis.
• Rome Research Institute van SA doen hulle databasis sedert 2018.
• Ysterberg Produksies doen dit sedert 2024.
• Die Witkruismonument het in Junie 2004 begin, maar het ‘n databasis van plaasmoorde wat verder terug dateer en doen bywerkings soos hulle dit ontvang.
• Geni.com-projek het in 2007 begin saamstel en hulle data dateer terug sover as 1970.
• Nampo hou sedert 2007 hul databasis en boere wat vanaf 1964 vermoor is, se name word by die Nampo Skou in Bothaville op ‘n muur aangebring.
• Ysterbergmedia maak sedert 2023 data bymekaar.
• Plaasaanvalle/Farmattacks webblad hou sedert 2024 data by.
Wil sentrale databasis saamstel
“Ons werk aan ‘n moontlikheid om ‘n sentrale databasis saam te stel waar ons almal die inligting kan invoer en deur kunsmatige intelligensie dan die inligting te verwerk. Vandaar wil ons dit op ‘n webblad plaas sodat enigiemand insae daarin kan hê.”
Statistieke in die verskillende provinsies
Ten opsigte van hul ontledings tussen 1990 tot 2024 is die statistieke vir die verskillende provinsies as volg: 21% in Gauteng, gevolg deur Noordwes met 17% en Mpumalanga met 16%. Die drie provinsies het vir die tydperk 44% van die aanvalle op plase en kleinhoewes in Suid-Afrika uitgemaak.
Van Januarie tot September 2025 toon Gauteng 31% en Noordwes en Mpumalanga 13% elk van Suid-Afrika se totaal uit. Die drie provinsies saam maak 57% van Suid-Afrika se aanvalle uit.
Hoe om betrokke te raak
Niels sê daar is ‘n behoefte vir nog lede om inligting op te volg of te verifieer. “Daar is ander databasisse soos die opvolg van hofsake, slagoffer-ondersteuning, veediefstalle en grondgrype wat ook gehou moet word, maar daarvoor is nog vrywilligers nodig.”
Vir enige navrae, skakel of stuur ‘n WhatsApp vir Niels by 079 938 3713 of stuur ‘n e-pos na [email protected]
