Observer Daller

‘Matwassers’ teiken ouetehuis in Groblersdal

Mans wat hulself voordoen as ‘goedkoop matwassers’ teiken tans ouetehuise!

Twee mans wat kwansuins matte en bekleedsels wil was by ouetehuise, het verlede week toegeslaan by bejaardes se wonings in Herfsakker, waar juwele nou vermis word.

Waarskuwings is ook hierdie week oral oor sosialemedia en WhatsApp-groepe landswyd gedeel om tehuise in kennis te stel van die diefstalle.

Daar is reeds vroeg in Oktober berig dat twee mans in Bethal toegeslaan het.

Daarna was hulle by die Rusoord in Belfast.

Net etlike weke later het hulle by die Oewersig Woonstelle (Lewensreg-afdeling) by die SAVF Tehuis in Middelburg toegeslaan.

Dra selfde klere

CCTV videomateriaal wat vergelyk is met dié van Bethal, het gewys dat die ouer man selfs dieselfde klere gedra het tydens beide voorvalle.

Inwoners van Herfsakker het Maandag die skermskote van die CCTV videomateriaal van die mans wat geneem is op Middelburg bestudeer en bevestig dat die een man beslis dieselfde een is kan wees wat toegeslaan het by Herfsakker.

Die skraler man is hul minder seker oor, aangesien hy “meeste van die tyd kop-onderstebo geloop het en niemand in die oë gekyk het nie.”

Volgens die opsigter van Herfsakker, wat op versoek anoniem wil bly, het hul Woensdag, 13 November, ’n afsluitingsete vir ’n predikant gehou by die tehuis, waarna hy vinnig dorp toe gery het.

“Ek het omstreeks 11:30 teruggekom by Herfsakker, toe was die twee mans reeds hier gewees. Niemand weet hoe die mans hier ingekom het nie.”

Vrou wou hulle nie toelaat by haar

Hy vertel dat die twee mans eers by ‘n vroulike inwoner aangeklop het om te hoor of hul by haar matte, banke of gordyne kan was, maar het sy nie belanggestel nie.

Hulle is daarna reguit na die opsigter se woning en het hom op sy naam genoem.

Vriendelik en sjarmant

“Waar hulle my naam gehoor het, weet ek nie, want ek het hul van geen kant af geken nie. Ek het hul egter die kans gegun om my banke en kussings skoon te maak, want hulle het goedkoop gevra en ek het hul jammer gekry en gedink dit is ten minste twee mans wat ’n eerlike bestaan wil maak. Hulle was vriendelik en sjarmant.”

Hy verduidelik dat die twee mans beide baie behulpsaam en vriendelik voorgekom het.

Ouer man is groot

“Die een man is groot en aan die langer kant. Hy was ook ouer as die ander een.”

Hy skat hom tussen 40 en 45.

“Hy het ’n pet op sy kop gehad, ’n swart kortbroek aangehad en het minder hare gehad.”

Een van die verdagtes wat op CCTV videomateriaal vasgevang is.

Jonger man kort en skraler

Die jonger, skraler man was ook korter en jonger. Hy skat hom tussen 25 en 30 en sê hy het donker, krullerige hare gehad.

‘n Opwen-masjienstappie

“Die groter man het ook meeste van die praatwerk gedoen en met ’n sleeptong gepraat. Hy het ook ’n opwenmasjien-stappie aan hom gehad. Hy het kort, vinnige tree gegee, terwyl die skraler man nie veel gepraat het nie.”

By die opsigter het die twee mans die kussings van die banke uitgedra en buite die woning skoongemaak. Hier is niks gesteel nie.

Daarna is hulle na ’n vroue inwoner, waar ook sy op die naam gegroet is. Die opsigter het dit duidelik gemaak dat hy nie haar naam voor die twee mans genoem het nie en hul ook nie na haar woning verwys het nie.

“Ek is eintlik al lank op soek gewees na iemand om my banke skoon te maak, aangesien ek ’n klein voertuig het en my meubels nie in my voertuig sal pas nie. Só dit was nie vir my vreemd dat een van die ander inwoners in die tehuis die bekleedselwassers na my sou verwys het nie,” het die inwoner verduidelik, wat ook op versoek anoniem wil bly.

Die mans het gesê dat die opsigter hul na haar verwys het en die opsigter se naam en van genoem het.

“Ek het dadelik meer vertroue in hul gehad, aangesien ek gesien het terwyl hul besig was om banke skoon te maak by die opsigter. Hulle het ook die opsigter se naam en van genoem, wat die indruk geskep het dat hul vertrou kan word aangesien hul dalk kennise was.”

Die inwoner verduidelik dat die twee mans by haar huis haar paar banke sou skoonmaak, asook haar gordyne.

 

Belanggestel in kinders se foto’s

“Die groter man het baie belangstelling getoon in my kinders en kleinkinders se foto’s wat teen die mure op is en geselsies begin aanknoop. Watter ouma wil nie oor haar kleinkinders spog nie? Terwyl ek met die groter man gesels het, was die skraler man in my kamer besig om die gordyne skoon te maak. Of só het ek gedink.”

Die inwoner vertel dat sy nie dadelik agtergekom het dat die mans items by haar gesteel het nie. Sy het dit eers agtergekom toe ’n ander inwoner later die dag vir haar sê daar is juwele by haar weg.

Alles van waarde gesteel

Volgens haar het hulle alles van waarde gesteel. Hulle het die kostuumjuwele eenkant toe geskuif en duidelik geweet watter juwele waarde het en net dit gevat.

“As ek nou terugdink aan die gebeure, onthou ek hoe die groot man vreeslik gesweet het terwyl hy met my gesels het oor die foto’s in my huis. Ek vermoed dit is van spanning. Die skraler man het my nooit in die oë gekyk en amper glad nie gepraat.”

Die inwoner het hul R130 betaal om haar gordyne en banke skoon te maak.

Hulle het by nog ’n inwoner banke gaan skoonmaak.

Een van die verdagtes wat op CCTV videomateriaal vasgevang is.

Sy naam heeltyd verander

Die groter man het homself voorgestel as Kobus, maar het glo sy naam by elke huis verander.

Steel juwele in badkamerkassie

Die skraler man het die inwoner gevra om haar badkamer te gebruik, waarna juwele vanuit haar badkamerkassie gesteel is, asook ’n Krugermunt.

Terwyl die skraler man in haar badkamer was, het die groter man aangehou praat met haar.

Hulle was die laaste by haar, voor die reënbui uitgebreek en sy vir hulle die hek oopgemaak om uit te gaan.

Afgestap na Game Sentrum se kant toe

Hulle is vanaf Herfakker straataf en het in die rigting van die Game Sentrum gestap. Sy het nie gesien dat hulle ’n voertuig het nie en hul het twee seilsakke gedra.

Die mans het nie by een van die wonings die werk voltooi nie, maar is deur die inwoners betaal. R100 vir bekleedselwas en R130 vir bekleedselwas en gordyne.

Sou kamtig terugkom

Die mans sou die volgende dag terugkeer om die werk te voltooi, maar het nooit.

Hulle was by ses wonings in Herfsakker om banke skoon te maak en het vermoedelik by drie gesteel.

Pet ingegee as bewysstuk

Drie diefstalsake is by Groblersdal polisiestasie geopen.

Die groter man se pet is by Herfsakker gevind en aan die polisie oorhandig as bewysstuk.

 

Lees ook: Mans was nie matte, maar steel

Lees ook: Mans wat ouetehuise teiken, slaan ook in Middelburg toe

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button