Slangvanger Arthur Roden het hierdie week reeds twee swartmambas en ’n twee wipneuskobras in die Marble Hall omgewing gevang.
“Die slange is veral baie aktief nou. Dit is moontlik as gevolg van die hitte deur die dag. Dis dalk net te warm deur die dag vir hulle om rond te beweeg, wat beteken dat hul in die aand meer beweeg. Elke jaar na die winter, is daar ’n tydperk wat die slange meer aktief is, gewoonlik is dit in November tot middel Desember. Hierdie jaar is die slange besonder aktief in die aand,” sê Roden.
Roden het Maandagaand ’n swartmamba van ongeveer 2m lank oorkant Moosrivier Karavaanpark gevang.
Hy is omstreeks 19:00 gekontak deur Morris Jardine, nadat die honde in die omgewing baie geblaf het en ondersoek ingestel is. Hulle het daarna die swartmamba op die grasperk gesien.
Met Roden se aankoms, het die swartmamba reeds in die lapa ingeseil en agter ’n bank geskuil.
Die slang is dadelik gevang en Roden het hom die volgende dag by Schuinsdraai Natuurreservaat vrygelaat.

Woensdag omstreeks 11:30 het hy weer ’n swartmamba van 2.5m by Alfer Farming se kantore gevang.
Roden het ook Donderdag ’n oproep van Obaro Marble Hall gekry, oor ’n slang wat skuil in die hondehokke wat vertoon word by die ingang van die besigheid. Hier het Roden ’n wipneuskobra van ongeveer 1m gevang.

Vandag het Roden ook ’n wipneuskobra van 1.1m gevang by Senter Balers net Buite Marble Hall in ’n hoenderhok.

Hy vertel dat hy op ’n slangvanger WhatsApp groep in Limpopo is, waar hierdie slangvangers gereeld gesels oor die slange wat hul gevang het. “Hierdie groepie is besonder besig nou,” sê Roden laggend.
Roden vertel ook dat daar twee persone in Limpopo deur slange gepik is, waarvan een persoon weens nagevolge van die slangpik gesterf het.
“Verlede Donderdag is ’n buitelandse vrou deur ’n swartmamba gepik, wat in ’n wasgoedmandjie geskuil het. ’n Dag later is ’n bejaarde vrou van 92, wat bedlêend was, twee keer gebyt deur ’n Mosambiekse spoegkobra. Die bejaarde vrou is ongelukkig Maandag oorlede. Beide die voorvalle het in Limpopo plaasgevind.”
Roden maan die publiek om versigtig te wees vir slange. Hy vra dat persone wat slange teëkom, die slang van ’n veilige afstand moet dophou. “Slange sal jou nie aanval, tensy jy in sy pad is nie. Indien die slang in ’n huis of kantoor is, maak die vertrek se deure en vensters toe, en kontak dan nou naaste slangvanger. Dit is ook belangrik om ’n bietjie kennis te hê van die slange wat in jou area kan voorkom.”
In die Groblersdal en Marble Hall area kom die volgende slange veral voor:
Swartmamba, pofadder, wipneuskobra, Mosambiekse spoegkobra, nagadder, suidelike sypikslang en Herald, bruinhuisslang en boomslang en gespikkelde bosslang.
“Persone wat op vakansie gaan om te gaan kamp, moet asseblief eers ordentlik deur jou tent, karavaan en bed gaan, voor jy gaan slaap. Mosambiekse spoegkobras is baie bekend daarvoor om in huise en beddens te skuil.”
Roden maan ook persone wat nie slange ken nie, en nie 100% seker is watter slang dit is wat in huis is nie, moet nie die slang probeer optel nie. “Baie mense word deur slange gebyt wanneer hulle naby genoeg aan die slang kom om die slang te wil doodmaak of doodslaan. Moenie slange konfronteer nie, slange sal nie huiwer om hulself te verdedig nie.”
’n Paar wenke wat Roden vir die gemeenskap gee om te verhoed dat slange in jou erf sal kom, is om jou erf skoon te hou van rommel en hope blare. Hokke met voëltjies en klein diertjies is ook geneig om slange te lok.
“Moenie kaalvoet in die aand rondloop nie, veral nie op plase nie. Maak seker jy het ’n ordentlike flits by jou.”
@die.daller ‘n Swartmamba van 2.5m is in Marble Hall gevang en vrygelaat by ‘n plaaslike natuurreservaat. Lees die volle artikel hier: https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/observer-daller/
• Die swartmamba en wipneuskobra het neurotoksiese gif, wat beteken dat die diafragma aangeval word en die persoon binne ’n kort tydjie sukkel om asem te haal.
Alle mense wat deur swartmambas gepik word, moet antiserum kry. ‘n Paar jaar gelede moes ’n persoon 15 ampules antiserum toegedien word om sy lewe te red, nadat hy op ’n plaas op die Stoffbergpad deur ‘n swartmamba gepik is.
• Indien jy ’n slang opmerk en hulp kort om hom te vang, kontak Roden by 082 327 8482.
@die.daller ‘n Wipneus kobra van 1m is in Marble Hall gevang en vrygelaat op ‘n plaas in die omgewing. Lees die volle artikel hier: https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/observer-daller/
•Lees ook: Video: Dodelike swartmamba buite Marble Hall gevang