Loskopdam sorg stééds vir skouspel
Loskopdam loop na ’n maand stééds oor en staan die damstandlesing tans op 102.1%.
Dis reeds ’n maand vandat Loskopdam begin oorloop het op 9 November, en bied die dam steeds ’n skouspelagtige prentjie vir die Vallei.
Mense ruk in hulle duisende na die dam op om na die bruisende massa te gaan kyk.
Met die goeie reën wat in Middelburg en die eMalahleni omgewing geval het, loop die Klein Olifants- en Olifantsriviere sterk en daar is nóg water na Loskopdam op pad.
Sondag is ’n sluis van die Middelburgdam oopgemaak, waarna drie vrouens by die treinbrug verdrink het, en Maandagmiddag het ’n man in Athlonedam in dié dorp verdrink.
Voor die sluis by Middelburgdam oopgemaak is, het dam op 98% gestaan, waarna die lesing teen Maandagmiddag op 89% gestaan het.
Die Olifantsrivier in die Groblersdal omgewing loop ook sterk en lê die water hoog teen die oewer.
’n Vol Witbankdam, wat sedert Maandag op 99.1% staan, voed ook die Oliftansrivier wat ’n sterk inloop na Loskop verseker.
Loskopdam se damstandlesing staan sedert Maandag op 102.1%.
Ander damme in die omgewing se lesings is Maandag as volg gelees: Flag Boshielodam staan op 108%, Buffelskloofdam op 100.9%, Blyderivierpoortdam op 100.5%, Nooitgedachtdam op 99.8%, De Hoopdam op 101 en, Ohrigstaddam op 58.5%.