Groblersdal waarskuwing: Padwerke en verkeersligte stééds buitewerking
Motoriste in Groblersdal word gewaarsku dat die padwerke op die N11 (Herefordstraat) voortduur, asook dat twee verkeersligte in die dorp buitewerking is.
Konstruksiewerkers is tans besig om slaggate te herstel op die N11 in Herefordstraat tussen Design a Sign en Costal Hire in Groblersdal.
Die dubbelbaan vanaf Coastal Hire na die NG Kerk in Groblersdal het tans net een baan oop, terwyl herstelwerk plaasvind. Een van die bubbelbane vanaf Design a Sign na Jac Motors in Herefordstraat is oop vir verkeer terwyl herstelwerk plaasvind.
Daar is konstruksiewerkers wat vir motoriste aandui waar om te ry en padtekens is in plek om motoriste te waarsku.
Motoriste word ook gewaarsku oor yslike slaggate op die N11 (Voortrekkerstraat).

Die slaggate het gedurende Desember 2025 gevorm op die N11 en is veral gevaarlik vir motoriste op dié pad, wanneer ander voertuie vir hierdie slaggate uitswaai en in die ander baan inry.
Daar is ook vir byna twee weke twee verkeersligte in Groblersdal buitewerking, wat moontlik verkeersvloei-probleme kan veroorsaak.
Die verkeerslig by die vierrigting van Van Riebeeckstraat-, Chris Wiid-, en Wesstraat (naby Sasko), asook die verkeerslig in Voortrekkerstraat voor Hoërskool Ben Viljoen is buitewerking.

Motoriste word gewaarsku om versigtig te wees en dat verkeersvloei-probleme ondervind kan word tussen 06:00 en 09:00, 12:00 en 14:00, asook 17:00 en 18:30.
• As jy weet van ongelukke, mis, groot slaggate en ander obstruksies op die paaie wat verkeer kan beïnvloed, skakel of stuur vir ons ’n WhatsApp (met ’n foto of video, indien moontlik) na 082 575 7016.
