Saailinge bring groot vreugde by Gromar
Die Pioniersprojek leer Gromar-leerlinge waardevolle lesse oor landbou, verantwoordelikheid en geduld.
Die Pioniersprojek by die CVO Gromar Landbou Akademie is vanjaar reeds in volle gang en die leerlinge se harde werk begin nou vrugte afwerp.
Gedurende April het leerlinge die saad van wortels, uie en beet ontvang om in hul eie saailinghouers te plant.

Groot opgewondenheid het geheers toe die eerste groen plantjies hul verskyning begin maak het.
Vir baie van die leerlinge was dit ’n besondere ervaring om van die begin af self die groei van hul plante te kon volg en beleef.

Die projek geniet groot ondersteuning onder die leerlinge, wat elke dag daarna uitsien om by hul plante uit te kom. Die entoesiasme oor die projek is só groot dat dit selfs in die klaskamers tasbaar is.
Elke leerling is verantwoordelik vir die daaglikse versorging van sy of haar plante. Deur hierdie praktiese ervaring leer hulle nie net meer oor landbou en plantgroei nie, maar ontwikkel ook belangrike lewensvaardighede soos verantwoordelikheid, geduld en deursettingsvermoë.

Die projek speel ’n waardevolle rol in praktiese leer en bied aan leerlinge ervaring wat hulle nog lank sal bybly. By CVO Gromar Landbou Akademie word daar nie net kennis gekweek nie, maar ook ’n liefde vir landbou en harde werk.

