NG kerk in Vereeniging se gedenkmuur verdwyn: Wat van jou geliefdes se as?

’n Gautengse gemeente het reeds 257 askissies aan naasbestaandes terugbesorg, maar talle families kon nog nie voor die jaareind-sperdatum opgespoor word nie.

Families met geliefdes se as in die gedenkmuur van Lux Deo NG Kerk in Arconpark, Vereeniging, moet voor jaareinde ‘n nuwe rusplek reël, berig Vaalweekblad.

Die gemeente het besluit om die gedenkmuur teen 31 Desember te sluit en te verwyder. Families wie se geliefdes se askissies steeds daar rus, word versoek om voor dié datum met die kerk in verbinding te tree om reëlings vir die teruggawes te tref.

Volgens Marlene Trollip, die woordvoerder van die Lux Deo-gemeente, is die besluit reeds meer as ‘n jaar gelede geneem.

Sy het verduidelik dat die gemeente nie beplan om met ‘n ander gemeente saam te smelt of sy deure te sluit nie. Finansiële druk het egter ‘n rol gespeel in die besluit om die gedenkmuur se voortbestaan te heroorweeg.

Die kerk het reeds daarin geslaag om 257 askissies aan hul onderskeie families terug te besorg. Daar is egter steeds askissies waarvoor die gemeente nie die families of naasbestaandes kon opspoor nie.

“Met groot respek en begrip vir die kosbare herinnering aan geliefdes wat nie meer met ons is nie, wil ons mense daaraan herinner dat die muur beëindig en verwyder word teen die einde van die jaar,” sê Trollip.

Die gemeente doen daarom ‘n beroep op die publiek om te help om die oorblywende families op te spoor.

‘n Lys met die name van die afgestorwenes wie se askissies steeds in die muur is, is op die gemeente se Facebook-blad, Lux Deo NG Kerk, beskikbaar.

“Versprei asseblief die boodskap. Ons wil graag seker maak dat almal die geleentheid kry om reëlings vir hul geliefde se as te tref,” sê Trollip.

Families wat nie teen die sperdatum hul geliefdes se askissies afhaal nie, moet daarvan kennis neem dat die oorblywende kissies daarna na ‘n ander geskikte rusplek verskuif sal word.

Die nuwe reëling sal ook binne die gemeente se finansiële vermoë moet wees.

‘n Gemeente met 6 dekades se geskiedenis

Die besluit oor die gedenkmuur kom in ‘n jaar waarin die oorspronklike NG Gemeente Arconpark sy 60ste bestaansjaar vier.

Volgens historiese navorsing oor die kerke in Vereeniging het die NG Gemeente Arconpark op 16 Junie 1966 van die moedergemeente Herman Steyn afgestig, met 600 lidmate. Die kerkgebou in Arconpark is in 1972 ingewy.

In September 2013 het Arconpark en die NG Gemeente Sonlandpark saamgesmelt om die huidige Lux Deo-gemeente te vorm.

Dié samesmelting was deel van ‘n aanpassing by veranderende gemeentelike omstandighede.

Finansiële druk laat kerke hul strukture heroorweeg

Lux Deo se besluit kom te midde van groter uitdagings waarmee talle NG-gemeentes in Suid-Afrika te kampe het.

Dalende lidmaatgetalle, veranderende gemeenskappe en finansiële druk het daartoe gelei dat sommige gemeentes hul bedrywighede heroorweeg, met kleiner gemeentes wat soms saamsmelt of hul eiendom verkoop.

Volgens ‘n berig oor die krimpende lidmaatgetalle van NG-gemeentes in 2024 het byna  50 NG-gemeentes verklein of gesluit. Dit beteken egter nie dat al 50 saamgesmelt het nie. Daar is nie ‘n volledige nasionale rekord wat die aantal gemeentelike samesmeltings afsonderlik bevestig nie.

Die Middelburg Observer het verlede jaar die finansiële uitdagings van kerkgemeenskappe ondersoek. In ‘n verwante berig, Kerke in die kollig – kerkleiers stem saam, Afrikaanse kerke loop leeg, het verskeie kerkleiers oor die druk op gemeentes en die toekoms van kerkgeboue gepraat.

Prof. Cobus van Wyngaard, die voorsitter van die NG Kerk se algemene taakspan, het volgens die berig gesê daar is nie ‘n sentrale rekord van hoeveel kerkgeboue verkoop of gesluit is nie. Gemeentes bestuur hul eiendom as afsonderlike regspersone.

Dr. Déwyk Ungerer, ‘n aktuarius van die NG Kerk se algemene sinode, het ook verwys na dalende lidmaatgetalle en die finansiële uitdagings wat gemeentes weens die land se ekonomiese omstandighede ervaar.

Waarom het kerke gedenkmure opgerig?

Gedenkmure, ook bekend as kolumbaria, het aan families ‘n alternatief vir tradisionele begrafnisse gebied namate verassing meer algemeen in gebruik gekom het.

Die strukture bestaan uit nissies waarin houers met die as van afgestorwenes geplaas word. ‘n Naamplaat dui aan wie daar rus. Vir families bied dit ‘n vaste plek waar hulle hul geliefdes kan besoek, blomme kan neerlê en herinneringe kan koester.

Die gebruik van verassing het nie altyd dieselfde aanvaarding in Christelike gemeenskappe geniet nie. In die Nederlands-Calvinistiese tradisie in Suid-Afrika is dit aanvanklik met weerstand begroet, maar het dit mettertyd meer algemeen geword.

Hierdie ontwikkeling is ook in ’n navorsingsartikel ondersoek.

Dié navorsing bespreek hoe veranderende begrafnisgebruike gelei het tot nuwe maniere waarop families die oorskot van afgestorwenes bewaar en herdenk.

Gedenkmure het dus nie net ‘n praktiese funksie vervul nie, maar ook ‘n plek van herinnering gebied vir families wat verkies het dat hul geliefdes se as op ‘n bepaalde plek bewaar word.

Wat gebeur met askissies wanneer ‘n kerk sluit of saamsmelt?

Wanneer ‘n kerkgebou verkoop word, ‘n gemeente sluit of gemeentes saamsmelt, ontstaan belangrike vrae oor die bewaring van askissies wat in gedenkmure geplaas is.

Die NG Kerk se kerkorde bevat voorskrifte oor die hantering van bates tydens gemeentelike samesmeltings, maar maak nie voorsiening vir ‘n afsonderlike, omvattende nasionale prosedure vir die verskuiwing van askissies uit gedenkmure nie.

Die reëlings moet daarom duidelik deur die betrokke gemeente gekommunikeer word. Families moet weet wie vir die askissies verantwoordelik is, waarheen dit verskuif sal word en of hulle steeds toegang tot die nuwe rusplek sal hê.

In Lux Deo se geval het die gemeente bevestig dat die oorblywende askissies ná die sperdatum na ‘n ander geskikte rusplek verskuif sal word.

Die ligging van dié plek en die presiese reëlings vir families wat nie hul geliefdes se askissies kan afhaal nie, is egter nog nie bekend gemaak nie.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Back to top button