NG Kerk Arconpark se Gedenkmuur binnekort iets van die verlede
Die herinnering aan ‘n geliefde is kosbaar en die kerk wil hierdie proses so verantwoordelik moontlik afhandel.
VEREENIGING – Geliefdes en naasbestaandes van mense wie se kissies tans in Lux Deo NG Kerk Arconpark se Gedenkmuur rus, moet kennis neem dat die Gedenkmuur beëindig gaan word.
“Met groot respek en begrip vir die kosbare herinnering aan geliefdes wat nie meer met ons is nie, wil ons mense daaraan herinner dat die muur beëindig en verwyder word teen einde Desember 2026,” verduidelik ‘n woordvoerder vir die Lux Deo gemeente.
Die besluit is reeds meer as ‘n jaar gelede geneem.
Alhoewel groot vordering gemaak is en 257 kissies reeds aan hulle onderskeie families oorhandig kon word, is daar egter steeds kissies in die muur waarin die kerk nie kon slaag om die betrokke families of naasbestaandes op te spoor nie.
“Ons vra dus dringend die hulp van die publiek om ons hiermee te help. ‘n Lys van name verskyn op die kerk se Facebook-blad – Lux Deo NG Kerk.
“Versprei asb. die boodskap, ons wil graag seker maak dat almal die geleentheid kry om reëlings vir hul geliefde se as te tref”.
Na 31 Desember 2026 sal die oorblywende kissies verskuif word na ‘n ander geskikte rusplek, wat vir die gemeente ekonomies bekostigbaar is.
“Ons besef dat hierdie ‘n sensitiewe en emosionele saak is. Ons wil elke familie met die nodige deernis, begrip en respek tegemoetkom,” sluit die kerk af.
Die kerkkantoor kan by 016 428 3508 gekontak word.