Network Sport

Internasionale louere vir Pretoria se eie atletiekkampioen Gert Potgieter

Al het hy sy atletiekskoene dekades gelede al opgehang, word ’n 89-jarige se kundigheid steeds wêreldwyd ingespan met ’n top-internasionale aanstelling.

Al is hy reeds 89 jaar oud, weier die Suid-Afrikaanse atletieklegende Gert Potgieter om die tuig neer te lê, berig Pretoria Rekord.

Dié voormalige wêreldrekordhouer het pas bewys dat hy steeds as internasionale sportadministrateur gereken word nadat hy tot die raad van die Internasionale Olimpiese Akademie se Deelnemersvereniging verkies is.

Dié raad, wat verteenwoordigers uit meer as 100 lande insluit, het Potgieter vir die termyn tot 2027 aangestel. Dit volg kort nadat hy ook as die vereniging se amptelike koördineerder in Suid-Afrika aangewys is.

Potgieter wat op sy dag ’n driemalige atletiek-wêreldrekordhouer was, is later ook as Suid-Afrika se Mansatleet van die Twintigste Eeu aangewys.

As gewese Olimpiese atleet het hy verlede jaar ook die Orde vir Voortreflike Diens van die Wêreld Olimpiese Vereniging ontvang, wat hom toelaat om die letters, OLY, agter sy naam te gebruik.

OLY is ’n amptelike post-nominale benaming (soos PhD of MD) wat toegeken word aan atlete wat aan die olimpiese spele deelgeneem het. Die letters, wat in 2017 deur die Wêreld Olimpiese Vereniging ingestel is, dui ’n atleet se toewyding, prestasies en lewenslange verbintenis tot olimpiese waardes aan.

Die toekenning is opgevolg deur nog ’n eerbewys van die Internasionale Olimpiese Akademie.  Kostas Georgiadis, dekaan van die organisasie, het dit persoonlik in Olimpia, Griekeland, aan Potgieter oorhandig.

 Die toekenning is ’n beeld in die vorm van ’n wit duif (simbool vir vrede en skoonheid), wat deel uitmaak van die simboliek van antieke Griekeland en die Olimpiese Spele.

Dié eerbewyse is hoofsaaklik aan Potgieter toegeken as erkenning vir die werk wat sy liefdadigheidsorganisasie, Altus Sport, in behoeftige gemeenskappe doen. Deur opvoedkundige programme help die organisasie om olimpiese waardes op grondvlak te vestig en te bevorder.

Altus Sport, onder leiding van die uitvoerende direkteur Liana Laubscher, is tans in vennootskap met die Gautengse departement van onderwys.

Met die hulp van borge stig hulle sportklubs by geïdentifiseerde skole. ’n Kernvoorwaarde om aan die klubs te behoort is dat waardes soos verantwoordelikheid, respek, vriendskap en eerlikheid aktief nagestreef moet word, terwyl uitnemendheid en leierskap ook bevorder word.

Volgens Potgieter is hierdie inisiatief ’n reuse-deurbraak vir Afrika en die departement verwelkom dit as ’n waardevolle uitbreiding van die skoolkurrikulum.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button