Menige Parysenaar ken die gesig van Johan Bosman by parkrun, maar weinig weet dat Johan ‘n veelsydige sportman is wat op sy dag aan die SA kragoptel kampioenskappe deelgeneem het. Maar eintlik het alles by karate begin. Johan vertel dat hy destyds saam met sy kinders begin karate doen het. Uiteindelik sou hy ‘n graderingskamp moes bywoon om sy swartgordel te kry. Om sy fiksheid op te skerp ter voorbereiding vir dié graderingskamp, het hy begin gym. Die res is geskiedenis.
Johan het toe nooit gradeer nie, maar het mettertyd op kragoptel (powerlifting) begin fokus. Op 37-jarige ouderdom neem hy die eerste keer aan die SA kragoptel kampioenskappe deel, waar hy ‘n skitterende tweede en vierde plek behaal. Hy het gou naam gemaak met ander kompetisies wat hy gewen het, en ook sy Noord-Vrystaat kleure in die sport verwerf. Johan verduidelik dat deelname aan kompetisies in drie items gedoen word – “bench press”, “squad” en “deadlift”. Sy gunstelingitem was “bench press” met ‘n beste van 220kg. Toe hy ophou met die sport, het hy vir sowat 10 jaar geen ander sport beoefen nie. Om sy gewig in toom te hou, vertel hy, het hy ‘n fiets aangeskaf.
Dit het gelei tot daaglikse fietsritte. Gou-gou het dit die gewenste uitwerking gehad. Met 20kg ligter kon hy spoedig ‘n 100km ry. Toe die Bosmans na Parys verhuis het, het hy aanhou fietsry.

En toe word hy aan parkrun voorgestel. Dit het dadelik sy belangstelling geprikkel. Die hele parkrun atmosfeer, kleredrag, statistiese mylpale, sosiale aspek en besoek aan ander parkruns was genoeg om hom ‘n passie vir parkrun te gee. Ongelukkig het Covid ook parkrun-byeenkomste tydelik in die wiele gery, maar intussen is daar wel (not) parkrun – ‘n virtuele 5km wat jy op jou eie, jou eie tyd en eie roete doen en dan aanlyn aanteken, verduidelik Johan. “Jy kan selfs die tyd aanteken by ‘n parkrun van jou keuse (virtuele toer). So het ek al die SA parkruns gedoen, en Maandag die laaste een (van 224) by Upington aangeteken. Sondag sal ek my 250ste (not) parkrun doen, vertel Johan trots. “Ja, die virus het ons lewens omvergegooi, maar dit het vir my ook ‘n nuwe lewensstyl aangeleer. Ek hardloop nou daagliks ‘n 5km. Soos Pierre Fourie sê: “’n 5km ‘n dag laat die dokter wag!”




