Local news

Bedrogsaak begin glo vroeg in nuwe jaar

Otto het deurlopend die klagtes teen hom ontken.

Die bedrogsaak teen ‘n sakeman van Potchefstroom sal na verwagting op 29 Januarie in die Klerksdorp handelshof begin.

Dit nadat die beskuldigde, Ben Otto, reeds in September 2022 in hegtenis geneem is op aanklagte van bedrog. Hy is kort na sy arrestasie op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Die Valke se woordvoerder, Kapt. Tlangelani Rikhotso het in September 2022 bevestig dat Otto vir 69 klagtes van bedrog en 31 klagtes van geldwassery aangekla word. Die Valke het verduidelik dat dit aan die lig gekom het dat RSA Search, die maatskappy wat an Otto behoort het, soos ‘n Piramide-skema funksioneer, aangesien fondse van nuwe beleggers gebruik is om die uitstaande dividende van vroeëre beleggers te betaal. Baie beleggers het na bewering nooit hul geld terug gekry nie.

Volgens Magriet Otto (geen verbintenis) wat as informele sameroeper van die groep van oor die honderd mense, wat glo deur Otto ingedoen is, optree, is daar miljoene rande deur verskeie mense van die groep in RSA Search belê.
Kontrakte is met beleggers aangegaan dat hulle sou deel in die maatskappy se winste teen ’n koers van 2% of 3% per maand.
In meeste van die gevalle het die beleggers hulle maandelikse winsdeling van die maatskappy ontvang.
Sinta Botha van Potchefstroom het in 2020 aan di Herald vertel dat sy R500 000 in Januarie 2019 in die maatskappy belê het, waarna sy elke maand haar 3% winsdeling ontvang het.
Volgens haar is die geld in Januarie 2020 laat inbetaal en teen April 2020 het sy nie meer die rente ontvang nie.
Teen dié tyd het Otto vir beleggers laat weet dat die maatskappy weens die staat van inperking sukkel en later dat die maatskappy gelikwideer sal word.
James Potgieter van die Kingdom Kings Outreaches South Africa het ook R300 000 belê en het ook ‘n opbrengs tot en met April 2020 ontvang.
“Ons het alles verloor en maak nou op welsyn staat,” het Potgieter gesê.
“Ons kan darem nog eet en leef, maar ek sal nou langer moet werk. Ek dink almal soek net hulle oorspronklike belegging terug,” het Botha destyds aan die Herald gesê.
Volgens Magriet is die meeste van die mense wat geld in die onderneming belê het, pensioenarisse wat nou sukkel om kop bo water te hou.

Otto het deurlopend die klagtes teen hom ontken.

“Ek het nooit gewoeker met die geld van beleggers af nie. Die ooreenkoms was dat beleggers in die winste van die onderneming sou deel. Daar is weens die pandemie nou nie meer ‘n inkomste nie. Kapitaal is gebruik om die besigheid te adverteer en te laat groei. Ek het myself nie deur die beleggings verryk nie,” het Otto destyds aan die Herald gesê.

Vorige artikels oor die bedrogsaak:

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/news/2020/07/02/geen-bedrog-se-sakeman/

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/news/2021/12/10/likwidateurs-wil-sakeman-ondersoek-om-geld-vir-beleggers-terug-te-kry-2/

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/news/2022/09/21/valke-arresteer-sakeman-en-sy-vrou/

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/news/2022/09/21/sakeman-en-sy-vrou-uit-op-borgtog-na-r65-miljoen-se-bedrogklag/

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/news/2022/11/23/sakeman-en-sy-vrou-verskyn-weer-in-hof-vir-bedrog/

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/news/2022/12/12/bedrogsaak-tot-vroeg-volgende-jaar-uitgestel/

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button