SportSport

Voormalige NWU-Puk moker eerste honderdtal vir Proteas teen Australië

Nie net was die beurt een wat Suid-Afrika na 'n reeksoorwinning in moeilike omstandighede gelei het nie, maar dit was ook 'n bewys van aanhouer wen teen een van die wêreld se beste boulaanvalle. 

Dit was soos iets uit ‘n sprokiesboek toe die voormalige NWU-Pukke en Noordwes Dragons kolwer, Janneman Malan, vanaand (Woensdag, 4 Maart) teen Australië sy eerste honderdtal met ‘n briljante 129* (139) in Bloemfontein aangeteken het. Sodoende maak Malan geskiedenis as die eerste oud NWU-kolwer wat vir die Proteas ‘n honderdtal aanteken.

Nie net was die beurt een wat Suid-Afrika na ‘n reeksoorwinning in die tweede eendagwedstryd in moeilike omstandighede gelei het nie, maar dit was ook ‘n bewys van aanhouer wen teen een van die wêreld se beste boulaanvalle. Van sy beste houe was moeitelose haakhoue en dekpuntdrywe vir ses wat die skare gaande gehad het.

‘n Paar dae gelede was sy eerste bal in eendagkrieket wel nie so rooskleurig soos sy beurt in die Rosestad nie.

Die afgelope Saterdag in Paarl in die eerste eendagwedstryd is Malan vir ‘n 0 van sy eerste bal in eendagkrieket been voor paaltjie deur Mitchell Starc betrap. Sodoende het hy ‘n ongewenste wêreldrekord agter sy naam – die eerste speler wat op sy eemdag internasionale debuut met die eerste bal van die wedstryd uit is.

Nou slegs vier dae later is dit Malan wat breed glimlag toe hy die Starc se bal na derde man toe stuur in die heldergroen Proteas-trui om sy eerste honderdtal vir sy land aan te teken.

Hoe kan dinge nie verander nie!

Malan het in sy briljante beurt soos ‘n ervare nasionale kolwer gelyk en mooi kopgehou. Hy het geduldig bal na bal dopgehou en al was daar ‘n paar gelukskote het hy met 7 viere en 4 sesse ‘n droombeurt vir sy land gespeel.

Daar was nog nooit twyfel oor Malan se talent vandat hy destyds in 2015 naam in Potchefstroom begin maak het nie. Sy beurte vir die NWU in Varsitybekerkrieket en later vir die NW Dragons het die wenkbroue laat lig. Toe maak hy ook so vir die Cape Cobras op Nuweland en die Cape Town Blitz in die MSL.

Tog was daar nog een groot droom om in die groen en goud sy kolf te lig – en dit sommer in sy tweede wedstryd vir sy land.

“Dit is enige jong krieketspeler se droom om vir sy land ‘n hondertal aan te teken en na ‘n reekssege te lei. Dit is ook ‘n motivering vir my om te wys dat ons as nuwelinge in die span ook kan bydrae,” het hy gesê.

“Ek moet ook krediet aan al die kolwers gee saam wie ek vennootskappe gebou het,” het hy ook na die wedstryd genoem.

Almal van ons het die tegniese vaardighedel en al wat ‘n mens op hierdie vlak nodig het is om rustig te bly en sielkundig reg te wees. Die senior spelers het my met dit vandag in die kolfbeurt gehelp en my gemotiveer.”

SA moes 272 jaag om te wen en op hierdie aand het Malan die Proteas se oorwinning beklink nadat Lungi Ngidi (6/58) vroeër die bal aan die rol gekry het.

Malan het ook drie vangskote in die veld benut en dit was alreeds ‘n teken dat daar meer wag vir dié voormalige Nelspruiter, Potchefstromer en huidige Kapenaar wat beslis nog ‘n klompie groot beurte op sy kerfstok gaan hê.

Vir eers gaan daar ‘n tuiskoms dié Saterdag, 7 Maart vir die voormalige NWU-kolwer op Senwespark wees – Dié keer nie in ‘n maroen trui nie, maar eerder met ‘n Protea op sy bors en ‘n honderdtal agter sy naam.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button