Entertainment

‘n Nuwe siening oor Siener

“Siener is nogal ‘n fenomeen,” sê skrywer PG du Plessis, die meesterbrein agter die Afrikaanse drama wat in 1972 die Hertzogprys gewen het.

Marianke Saayman
“Siener is nogal ‘n fenomeen,” sê skrywer PG du Plessis, die meesterbrein agter die Afrikaanse drama wat in 1972 die Hertzogprys gewen het.
Hierdie drama, wat oorspronklik in die sewentigerjare afspeel, is vandag nog net so relevant.
Die storie speel af in ‘n maatskaplik vervalle suidelike voorstad van Johannesburg en handel hoofsaaklik oor komplekse menseverhoudings. Die skryfproses van Siener in die Suburbs is wel ‘n interessante een, met inspirasie vanweë die tyd toe Du Plessis in Johannesburg skoolgehou het. Dit dra by tot die aard en gevoel van die hartroerende produksie.
“Ek het Siener geskryf op lughawens,” sê Du Plessis, wat vertel hoe hy altyd ‘n uur en ‘n half vroeg vir sy vlugte opgedaag het. Terwyl hy wag sou hy sy enorme oorfone opsit, Beethoven se 9de op sy bandopnemer luister en met die hand Siener skryf in ‘n manuskrip wat gemerk is met sy kat se bloed.
“Die kat het ‘n seerplek gehad en van sy bloed het op die manuskrip gekom,” vertel hy. Du Plessis het Siener in die Suburbs in ‘n tyd van erge nostalgie geskryf. “Ek verlang huis toe, en hier is die kat se bloed ook nog om my te herinner.”
Die eerste twee bladsye het hy geskryf voor hy begin vlieg het, maar 27 vlugte later was Siener in die Suburbs ‘n byna voltooide stuk werk. Hy het die laaste drie bladsye by die huis geskryf.
Hoewel dié drama al vir 45 jaar geskiedenis maak in Suid-Afrikaanse drama en literatuur, is die produksie wat vanjaar vertoon word anders. ‘n Mens kan sê daar is nuwe asem in die produksie geblaas. “Alexa (Strachan) het na my toe gekom en gesê sy wil graag bruin spelers vir die produksie gebruik,” sê Du Plessis. Strachan het die regisseur, Heinrich Reisenhofer, genader wat nog nie die oorspronklike produksie gesien het nie en hy het ‘n heel nuwe siening oor die produksie gehad. Die spelers is anders, die manier waarop dit opgevoer word is anders en die gevoel is anders, maar die drama is steeds presies dieselfde.
“Vir ‘n skrywer is een ding belangrik: hou die drama. Ten spyte van ‘n nuwe regisseur en nuwe karakters, het hulle wel die drama behou,” sê Du Plessis tevrede. “Hy is nou heeltemal anders, maar hy werk.” Hy is ook baie in sy noppies met die akteurs wat in die produksie speel, waaronder Shaleen Surtie-Richards, Christo Davids, Brendon Daniels, Ivan Abrahams, Crystal-Donna Roberts, Dann-Jacques Mouton en Andrea Frankson. “Siener was een van my grootste suksesse,” sê Du Plessis, wat op 81-jarige ouderdom nie meer altyd kans sien om te skryf nie. Hy is tans in die proses om ‘n draaiboek te skryf vir ‘n Siener in die Suburbs rolprent, en hoop om dit teen die einde van die jaar te voltooi.
Siener in die Suburbs word van 6-10 Oktober in die kykNET Ouditorium opgevoer, so maak seker jy kry jou kaartjie by die Aardklop kantore voor dit te laat is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button